God se Woord in vandag se woorde

Sonder geraas


’n Mens kap lekker met die lewe aan, totdat iets ’n stopstraat hier voor jou indruk en jy met skreeuende bande tot stilstand kom. Dit is hier waar jy tot stilstand geruk is, waar ’n mens gedwing word om net gou eers weer oor jou lewe te kyk en te vra of jy op die regte pad is.

Soos die hele wêreld letterlik en figuurlik tot stilstand gedwing is met die aankoms van die Covid-19-virus. Vliegtuie se vlerke is geknip. Lande se deure het eenvoudig net toegegaan en burgers is deur regerings in hul eie huise toegesluit.

Die hele wêreld is tot stilstand gedwing. Mense het noodgedwonge tyd gekry om te dink en ons het baie dinge gesien en ervaar wat nog nie in ons heugenis was nie:

    • Die water van die waterweë in Venesië het kristalhelder geword. Visse het teruggekeer. Selfs dolfyne en jellievisse het weer in die water gebaljaar.
    • In ‘n Oosterse land kon die mense weer vir die eerste keer skoon lug inasem, omdat die fabrieke wat die lug so ongelooflik besoedel, se kersies doodgeblaas is.
    • Mense in die noorde van Indië kon weer die Himalaja-bergreeks honderde kilometers vêr sien – ook as gevolg van die besoedeling wat vir eers op die ys gesit is.

Dan besef ’n mens darem hoe ons ons aarde druk dat haar oë traan. Ons mense is besig om die aarde ses nul op te foeter en ons besef dit nie. Maar ek het ’n paar ander dinge ook agtergekom:

    • Ons mense is vêr van in beheer wees – ’n klein virus (wat nie eens lewendig is nie!) kan die hele mensdom tot stilstand bring.
    • Ons spandeer die grootste gedeelte van ons energie aan geld, maar maak nie saak hoeveel ons opgegaar het nie, as die moeilikheid kom, help dit nie veel nie.
    • Ons stap in die verkeerde rigting en los dit wat eintlik belangrik is, agter. Ons spandeer die minimum tyd en energie aan ons verhoudings. Wanneer alle stof gaan lê het en ons tussen die mure van ons huise vasgeverf is, het ons net mekaar oor. En dis verhoudings wat ons aan mekaar vashou.
    • Ons mense is eintlik maar broos.

Dis moeilik as die hele wêreld in een rigting stap, om nie self saamgesleur te word nie en die meeste van die kere, sonder dat ons dit besef.

Dis dan goed om tot stilstand geruk te word en weer by die groot waarhede van ons lewe te kom. Om weer ’n draai te maak by die oorspronklike doel waarvoor ons hier op aarde is: 1My broers en susters, God het julle geroep om net Syne te wees. Laat Jesus daarom die fokus van julle lewe wees.

Ek en jy is geroep om afgesonder te wees vir God. Opsygesit om vir Jesus hier op aarde te wees. Kom ons onthou en gaan leef dit. Die res is net geraas.

Teks
Hebreërs 3:1-6

Om oor na te dink
Waar is jou fokus?
Hoe moet jy verander?
Wat is jou roeping?

Gebed
Vader, ek is jammer dat ek deur die wêreld se strome saamgesleur word. Ek is jammer dat ek vergeet dat ek eerstens hier op aarde is om U naam te verheerlik. Wys my waar ek anders moet leef. Ek wil net op Jesus fokus. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek