God se Woord in vandag se woorde

Sonder kolle


Hoekom is dit so dat wanneer mens iets gratis kry, ons dit dikwels nie na waarde skat nie en dan daarmee mors. Amper soos met God se genade. Mense sal sommer sê: Ag wat, ek kan mos na die tyd net sê ek is jammer, dan is my sondes vergewe.

Dis nie reg nie. Dis mors en God laat nie met Sy genade mors nie. Die vergifnis van sondes is met baie duur bloed gekoop en God sal nie toelaat dat enige iemand daarmee mors nie.

Ons kan nie maar net ’n lewe leef waar ons doen wat ons wil nie. Ons moet ons bes probeer om binne God se wil vir ons lewe te leef. Ons weet wat reg en verkeerd is. Daardie stemmetjie hier binne sê dit hard en duidelik vir ons. Ja, ons almal wat glo, het die Heilige Gees hier binne ons. Hy praat, dalk nie so hard nie, maar Hy praat. Dis ons wat ons baie keer doof hou vir Sy rigtinggewing.

Ons almal het dieselfde opdrag: 14Voor God en Christus vra ek mooi: doen al hierdie dinge presies so en moenie foute maak nie totdat ons Here Jesus Christus weer kom. “Hierdie dinge” verwys na die vorige vers wat sê dat ons die goeie geveg moet bly veg. Ons moet seker maak dat ons die goeie doen en die verkeerde met wortel en tak uitroei.

Ons moet bewustelik planne maak om ’n beter lewe te leef. ’n Motor wat se wielsporing uit is, kan reguit gehou word deur die stuur in die teenoorgestelde rigting te hou, maar sodra die stuur gelos word, trek die motor kant toe. Al manier om dit reg te kry, is om dit na ’n bande plek te neem, sodat hulle dit oor die put kan trek en met daai groot masjiene kan regstel.

Ons beur ook die heeltyd skeef. Ons beur ook na die dinge wat God nie wil hê ons moet doen nie. En dit help nie ons probeer die probleem oorkóm om so nou en dan ’n rigtingaanpassing te doen nie. Sodra die stuur gelos word, sodra ons moeg is en die dinge nie werk soos ons wil hê nie, los ons die stuurwiel en woeps, daar is ons oor die randsteen.

Wanneer daar ’n probleem in my lewe is, kom dit nie vanself reg nie. Ek moet gewoonlik eers ’n pen inkap en sê tot hiertoe en nie verder nie. Dan moet ek planne maak om my gedrag te verander en dan moet ek die planne in werking stel. Die meeste van die kere val die planne nie sommer so in plek nie. Dis probeer en weer probeer voor dit begin regkom.

Ons moenie met God se gratis genade mors nie. Ons kan nie maar net aangaan soos ons aangaan nie. Ons moet planne in plek kry om die skewe dinge in ons lewe reg te trek. Ons moet seker maak dat ons lewe nie vol kolle raak nie. Mag God ons krag gee. Mag Hy ons verstand vernuwe en ons help om planne te maak om teen die verkeerde dinge op te staan en die regte dinge te doen.

Mag ons die ondervinding wat ons hier opdoen, gebruik om ander te help wat dit nie op hulle eie kan doen nie. Mag ons hulle help om nie met God se genade te mors nie sodat hulle ook hard sal probeer om hulle lewe sonder kolle te lewe.

 Teks
1 Timoteus 6:11-16

Om oor na te dink
Mors jy soms met God se genade?
Sit daar ’n paar kolle?
Hoe nou?

Gebed
Here, daar is in ons elkeen se lewe plekke wat nie heeltemal binne U wil is nie. Ons besef ons moet iets daaraan doen. Heilige Gees, help ons om gehoorsaam te wees aan U stem wat ons wil lei sodat ons sonder kolle sal wees die dag wanneer U weer kom. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek