God se Woord in vandag se woorde

Sonder ’n spikkeltjie sonde


Paulus het aan die begin van die brief gesê dat hy vir die lesers, die mense van Tessalonika, bid. Hier demonstreer hy dit prakties: 23Ek bid dat God, wat vrede tussen ons en Hom gemaak het, julle lewe geheel en al vir Hom opsy sal sit. Mag Hy julle met alles binne-in julle oppas tot op daardie dag dat ons Here Jesus Christus weer kom. Mag Hy julle op ’n dag silwerskoon voor Christus laat staan, sonder ’n spikkeltjie sonde in julle lewe.

Dis so ’n mooi gebed. Soveel anders as die inkopielys-gebede van ons.

Paulus verstaan dat die mens op sy eie nie die pad gaan maak nie. Op ons eie sal ons meer neerslaan as opstaan. Op ons eie sal ons eerder wegbeur van God as agter Hom aanstap.

Daarom bid en smeek Paulus vir versterkings en die enigste ware versterking is God. Dis net God wat die mense op die pad kan help. Jy sien, dis juis God wat hope en hope vrede kom saai het sodat daar nie meer vyandskap tussen God en die mens is nie. Eintlik is dit net hierdie liefdevolle, vrede-saaiende God wat die mens kan bystaan in sy loop en val. Dis net Hy wat ons kan optrek.

Dis net die Heilige Gees wat ons kan help om heilig te lewe. Heilig beteken afgesonder, opsy gesit, spesiaal geroep vir God. Weereens kan ons dit nie op ons eie regkry nie, want ons foeter ál teen die stroom op en ons wil gedurig ons eie ding doen. Daarom moet ons saam met Paulus bid en smeek dat God ons sal help en dat Hy ons asseblief tog nie aan onsself sal oorlaat nie, want dan sal ons onsself teen die naaste muur te pletter loop.

Maar méér nog – God moet ons help om heeltemal skoon te bly vir die dag wanneer ons Jesus gaan ontmoet. Die 1983-vertaling sê dit so mooi: … na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!

God moet ons help om met ons hele wese, dis nou gees, siel en liggaam, skoon te bly. Kom ons wees nou maar eerlik en sê dit vir mekaar: Dis nie ’n maklike job nie. Soms word mens mismoedig om so te sukkel om sterk te staan teen die aanvalle.

Ons moet mekaar help. Ons moet vir mekaar bid.

Ek dink nou weer aan daai storie van die beeldhouer wat ’n perd uit ’n blok marmer gekap het. Toe iemand hom vra hoe gaan hy die beeldhouwerk van ’n perd uit die marmer gekap kry, het hy geantwoord:  “Dis maklik. Ek kap net af wat nie lyk soos ’n perd nie.”

Ek vermoed dit is wat God besig is om met ons te doen. Hy is besig om alles af te kap wat nie binne Sy prentjie van ons pas nie. Hy wil hê ons moet gereed wees as Jesus weer kom. En omdat ons na Sy beeld geskape is, sal Hy besig wees met ons totdat Sy Seun ons kom haal.

Teks

1 Tessalonisense 5:23-28

Dink bietjie hieroor

Hoe dik lê die spikkels sonde by jou?

Hoe kan jy maak om meer afgesonder voor God te lewe?

Wat moet God doen u te help?

Gebed

Onse Vader, ek wil meer heilig lewe. Ek wil meer vir U afgesonder wees, maar ek weet nie hoe nie. Wys my. Leer my. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek