Soos ’n boom met diep wortels
Hier is ’n opdrag vir jou: 6Julle het Jesus Christus as Here erken en aanvaar. Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken.
Ons moet ophou om net sóms te leef soos kinders van God. Ons moet erns maak met God se bedoeling vir Sy kinders se manier van lewe. Ons moet intensioneel breek met die wêreld se manier van lewe. Ja, ons wil so graag God se manier uitleef, maar as ons ons weer kom kry, is ons maar weer ingesuig deur die wêreld en leef ons soos wêreldse mense.
Hoekom is dit so moeilik? Hoekom is dit voortdurend ’n gestoei om Jesus se manier uit te leef in die wêreld?
Die grootste rede vir ons onvermoë om Jesus se manier van doen uit te leef, is seker omdat ons nie genoeg in ons verhouding met Hom sit nie. Ons bring nie genoeg tyd saam met God deur in ons besige dae nie. As ons wil optree soos Jesus in ons elke dag se doen en late, moet ons eerstens weet hoe so ’n optrede lyk. Al plek waar ons dit kan leer, is by Jesus self. In ’n intieme verhouding met Jesus kan Hy ons leer wat die regte manier is en hoe ons dit in ons alledaagse bestaan tot uitvoering moet bring.
Daarom stel Paulus dit voor: 7Julle verhouding met Hom moet so heg en intiem wees soos die band tussen ’n boom en die aarde waaruit dit groei. Soos ’n huis wat op ’n sterk fondament gebou word, moet julle julle lewe op Jesus bou. Staan onwrikbaar vas in dit wat julle glo, soos julle geleer is. Doen dit terwyl julle gedurig vir God dankie sê en Hom eer.
Die hoekoms en die waaroms sal begin verdwyn wanneer ons in ’n intieme verhouding met God staan, want dit is juis in die intieme verhouding met Jesus dat jy die wil van God vir jou lewe leer ken. Dit is juis hier waar jy leer hoe om in elke situasie deur die dag op te tree. Mense sal deur jou optrede in elke situasie, maak nie saak hoe moeilik nie, vir God raaksien. Mense sal so verras wees dat hulle ook so wil wees. Dink maar aan moeder Theresa. Hoeveel mense is nie verander deur haar manier van doen nie?
Ons verhouding met Jesus moet so sterk wees soos ’n boom wat vasgeanker is in die aarde. Die winde kan maar waai, die storms kan maar kom, maar die boom staan vas, want dit is geanker met sy wortels in die stewige aarde. Maar ek sukkel met die idee van bome wat vasgeanker is in die grond, want sien, ’n tyd terug het die wind verskriklik gewaai hier op ons dorp. Daar het amper 100 bome omgewaai op die gholfbaan. Groot ou bome het op die gras gelê.
Hoe kan Paulus dan praat van ons verhouding wat ook so geanker moet wees? Toe onthou ek iets wat iemand gesê het: Dié bome kry te maklik op die gholfbaan. Hulle kry te maklik water en die wortels gaan soek nooit diep nie. Daarom bly hulle wortels vlak en as die winde dan een maal in 10 jaar só erg waai, is die wortels nie diep genoeg om die groot takke en blare stewig te hou nie en dan val hulle om.
Hoor jy wat hier gesê word? In ’n intieme verhouding met Jesus groei ons wortels diep, sodat ons kan bly staan as die woeste winde kom. Dit is nie altyd maanskyn en rose nie. Selfs in die intieme verhouding met Jesus gaan dit ook soms swaar, maar dit is juis in die swaar tye wanneer ons wortels dieper in Jesus groei, waar ons op soek is na meer. Dit gee dan die stewigheid wat ons nodig het om staande te kan bly.
Kan ek jou vra om met alle erns elke oomblik van vandag en môre te smag na ’n intieme verhouding met Hom?
Teks
Om oor na te dink
Hoe stewig staan jou boom?
Word jy soms omgewaai?
Hoe intiem is jou verhouding met God?
Gebed
Ai Vader, ek weet dat ek meer tyd by U moet deurbring, maar dan kom die lewe tussenin. Help my om meer gedissiplineerd te lewe en elke dag oorgenoeg tyd in U teenwoordigheid deur te bring. Amen.