God se Woord in vandag se woorde

Soos ’n boom stewig gewortel


Paulus stuur vir Timoteus met die volgende woorde die wêreld in om sy werk te gaan doen: 18Timoteus, my seun, laat ek vir jou verduidelik wat ek wil hê jy moet doen. God het mos ’n profesie gegee oor wat jy aan party mense in die gemeente gaan doen. Hulle het dit vir die gemeente vertel. As jy dit doen, sal jy ’n wenner wees.

Een feit staan soos ’n paal bo water: Timoteus is deur God geroep om Sy Woord in die wêreld te gaan uitdra. Timoteus is jonk en sou nog ’n hele paar dinge langs die pad beleef. Daar sal dae wees wat dit nie so goed gaan nie, daar sal dae wees wat hy twyfel en wonder wat hy daar maak. Daar sal dae wees wat hy meer kritiek as positiewe terugvoer sal ontvang. Dit is die dae wanneer hy moet vashou aan een ding – sy roeping.

Hoe ernstiger hy sy roeping gaan uitleef, hoe sterker gaan die winde wees. Ons weet dit mos, hoe hoër die boom, hoe sterker waai die winde daar aan die bokant. Daarom moet Timoteus gegrond wees, sy wortels moet diep in die fondament gegroei wees om staande te bly teen die storms.

Hoekom waai sommige bome in ’n storm om en sommige nie? Dis gewoonlik die bome wat ’n goeie wortelstelsel het wat vas bly staan. Timoteus moet sorg dat sy wortels goed gevestig is. Hy moet homself ingrawe in God se woorde. En dan, juis as dit voel of al die wiele wil afkom, moet hy vashou aan die roeping wat oor sy lewe gespreek is.

Abigail (skuilnaam) se storie vertel van woeste winde wat só sterk in haar alledaagse lewe gewaai het dat dit haar amper ontwortel het:

Dit was nie ’n maklike jaar vir my nie. Ek het my troue beplan, baie druk by die werk gehad en moes my meestersgraad se tesis afhandel.

Twee weke gelede het ek my troue afgestel. Ek het tot God gebid om my leiding te gee en Hy het deur verskeie gebeurtenisse vir my duidelikheid gegee.

God het my die krag gegee om die troue af te stel. Ek moes my fokus weer herstel en my verhouding met Hom regkry. My fokus was meer op my verloofde – in so ’n mate dat my waardes en my verhouding met God skipbreuk gely het.

Dit was nie maklik nie, maar ek is dankbaar dat ek getrou kon bly aan my roeping.

Sonder dat ons dit besef, kom staan alledaagse dinge tussen ons en God. Sonder dat ons dit besef, kom staan alledaagse dinge tussen ons en ons roeping. Stadig maar seker kom druk ons eie drome om bo uit te kom êrens in en ons skuif God geleidelik uit na die rand van ons lewe. Ons het nie meer tyd nie. Alles is ’n gejaag na wind en voor ons ons kom kry, is dit juis die wind wat ons boom omwaai en ontwortel.

God het jou geplant waar jy nou is. God het baie mooi planne vir jou daar. Die vraag is of jy dit nog in die oog het? Glo jy nog dat God vir jou ’n plan daar het? Of het jy die pad van die minste weerstand gekies en nie gegroei sodat die winde nie so erg waai nie?

My vriend, my vriendin, wil jy nie weer jou oorspronklike doel herbesoek nie? Wil jy nie soos Timoteus en Abigail vasstaan en die regte ding doen nie? Glo jy so vas in God en jou verhouding met Hom dat jy nie sal toelaat dat enige iets tussen julle kom nie?

Teks

1 Timoteus 1:18-20

Dink bietjie hieroor

Wat maak jy daar?
Glo jy nog dat jy daar moet wees?
Hoe groot is die verskil wat jy maak?

Gebed

Here, ek weet U het my op ’n spesifieke tyd op ’n spesifieke plek geplaas om ’n verskil te maak. Help my om naby U te bly sodat my wortels diep in U woord geanker is en sodat geen storm my kan omwaai nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek