Soos ’n Jack Russel
’n Vriend van my is by CBMC, ’n Christen besigheidsgroep wat weekliks bymekaarkom en mekaar help om nader aan die Here te leef – ook in die besigheidswêreld waar dit nie aldag so maklik gaan nie. Maar hulle groei nie net na binne nie. Hulle glo dat elke lid verantwoordelik is om die Evangelie daar buite in die markplein te kry.
Ek het baie waardering vir die vriend van my en wat hy alles vir die Koninkryk doen. As ek aan hom dink, dink ek aan ’n Jack Russel hondjie. Kyk nè, as daai hondjie ’n ding in sy kop het, los hy dit nie.
Nog ’n vriend, James, vertel van sy Jack Russel wat so woelig is. Hy sê as die hondjie eers ’n reuk van ’n muis gekry het, sal hy heeldag daar staan en ruik en woel totdat hy die muis op ’n manier daar uitgekarjakker het. Op ’n dag kry hy die reuk van ’n muis tussen ’n groot hoop braaihout. Die Jackie kon nie opgee nie. James moes hom later gaan help en die hele hoop braaihout wegskuif, net sodat die hond die muis kon vang.
So is my vriend oor verlore mense. Besigheidsmense wat van die pad af is. Man, hy gaan praat met rowwe ouens, ouens vir wie ek te bang is om eers in hulle rigting te kyk. Hy peil op onverantwoordelike, soms invloedryke ouens af en op ’n mooi, liefdevolle manier vertel hy hulle van die gevaar op die pad waarop hulle nou is.
En as die ouens hom ’n koue skouer gee, kom hy weer. Al draai hulle hulle rug op hom sal hy, soos ’n Jack Russel, nie los nie, maar eerder volgende keer van ’n ander hoek af probeer. En ek moet sê my mond hang oop om te hoor watter groot en geharde besigheidsmense se oë oopgaan en hoe hulle ’n moewiese ommekeer in hulle lewe maak omdat James nie moed opgegee het nie.
My vriend verstaan, leef en hardloop op al die pistons vir sy Verlosser. Hy verstaan die opdrag: 16Juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn. Vir hierdie mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel sodat hulle ook die ware lewe kan kry. Hoe trots sal ek dan nie op julle wees wanneer Christus weer kom nie! Dit sal wys dat ek nie alles verniet gedoen en my tyd gemors het nie.
Soos my vriend James se Jacky, moet nie een van ons die kans laat verbyglip om lig in die wêreld te wees nie. Daar is hope en hope mense wat maak asof hulle sterk en uitgesorteer is, maar diep binne so hard opsoek is na vrede en vreugde. Oënskynlik het hulle dit, maar as jy die persoon in ’n hoekie gaan vastrap, sal jy gou agterkom dat sy wêreld nag is.
Vandag wil ek jou uitdaag om soos my vriende te wees en nie op te hou nie. Gaan klop aan by jou vriend, familielid en kollega. Gaan skyn jou lig daar. Maak ’n verskil. As die lig en Lig eendag in die persoon se wêreld aangaan, sal hy of sy so dankbaar wees dat jy nie vir hom of haar alleen gelos het nie.
Om oor na te dink
Glo jy dat God jou oproep om Sy lig te skyn?
Waar moet jy dit doen?
Waar moet jy dit weer en weer doen?
Gebed
Vader, U praat al lank met my om nie op te hou nie. Ek weet ek moet U lig laat skyn, maar ai, soms maak ek dit nie. Here, gee my krag, gee my wysheid en insig, laat my nie bang wees om die lig aan te skakel by die ouens wat so in die donker rondploeter nie. Amen