God se Woord in vandag se woorde

Soos ’n paal diep ingekap


Wanneer ’n mens jouself in die besigheidswêreld bevind, word jy baie keer plat geduik deur spanning. Maar dis nie al plek nie. Daar is baie dinge wat ’n mens spanning gee en wat veroorsaak dat jy voel asof jy net nie meer kan aangaan nie.

Ek onthou nog hoe ek een oggend om 02h00 wakker geskrik het van spanning. Ek het moedeloos in die hoekie agter die deur op die vloer van my studeerkamer gaan sit. Ek was ten gronde en so moeg van al die spanning wat ek 24 uur per dag moes dra. Ek kon net nie meer verder nie. Ek het dit reguit vir die Here gesê. Dit het vir my gevoel asof die pakkie wat ek as kind van die Here elke dag moes dra, net te veel was.

Só in die hoekie het ek gesit en stoei met die Here vir langer as ’n uur.

Ek het later opgestaan en moeg my Bybel oopgemaak. Vers 23 het my voor die kop getref: 23Julle moet egter net vas bly glo. Staan vas soos ’n huis op stewige fondamente, onbeweeglik soos ’n paal wat diep ingekap is. Ek lees die vers oor en oor en al hoe meer kalmte word oor my gestort. Ek besef ek moet myself diep in die grond van die evangelie anker sodat die woeste winde en storms wat om my woed my nie kan roer nie.

Dit klink dalk vreemd, maar op ’n manier het ek gevoel hoe die spanning uit my lyf trek. Seker ook omdat ek net weer besef het dat God by my is en met my praat. Hy het deur sy Woord vir my kom sê Hy weet ek kry swaar, Hy kan sien ek sukkel, Hy kan sien ek is moeg geswoeg en dat ek leiding nodig het. Daarom kry ek toe die raad om vas te staan soos ’n huis op stewige fondamente, want dan sal die winde van verwoesting my nie onderkry nie.

Ek moet egter ook iets doen. Ja, soos ons sien in vers 22 het Christus hard gewerk om vrede tussen ons en God te bewerkstellig. Dit het selfs Sy lewe gekos! Maar ons moet ook iets doen. Ons moet glo! Tog is dit nie al nie:  23… Moenie ’n duim afwyk van die evangelie waarvan julle so oortuig geraak het nie.

Hier is ’n opdrag vir my en jou: Hou binne die riglyne van die evangelie van God! Hier diep binne jou weet jy wanneer jy verkeerd doen. Op ’n manier kry ons dit reg om ons ore doof te hou vir daardie stemmetjie wat sê: Nee, moenie dit doen nie.

Partymaal voel ons sleg, maar wanneer ons weer in daardie situasie kom, hoor ons eenvoudig net nie weer die stemmetjie nie. Hoekom kry ons dit so gereeld reg om te doen wat ons weet nie reg is nie? Hoekom kry ons dit so goed reg om teen God se wil op te tree?

Miskien moet ons ophou om dubbele lewens te lei en ’n keuse maak. Dit is so asof ons ons brood aan albei kante gebotter wil hê. Ek is tog ’n kind van die Here, maar as ek in die wêreld leef, doen ek dit soos hulle dit doen.

Sit jy dalk ook in ’n hoekie vandag?

Hier is eenvoudige raad met ’n moewiese impak: Anker jouself diep in God se Woord en doen dit wat Hy van jou vra. Moenie ’n millimeter hiervan afwyk nie. God sal jou vrede gee! God sal jou wys hoe verder! God sal Hom aan jou openbaar! Ja, selfs aan jou! Doen dit net!

Skrifgedeelte

Kolossense 1:21-23

Om oor na te dink

Hoe dik loop jou spanning?

Kan jy dit vir God gee?

Wat moet jy doen om die spanning te verminder?

Gebed

Vader, U Woord is altyd vol wysheid en dit help ons om die lewe op die regte manier te leef sodat dit met ons goed kan gaan. Dankie dat U ons wil leer hoe om die regte keuses te maak. Help ons om gehoorsaam te wees. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?