God se Woord in vandag se woorde

My spanning en God se vrede


Paulus is in die tronk. Hy het heel waarskynlik ’n besoek gehad van Epafras, wat die gemeente in Kolossense geplant het.  Epafras het vertel van die gemeente en dat baie van hulle skewe idees het van die Evangelie. Met hierdie brief aan die jong Christene van Kolosse probeer Paulus die mense prakties help om op die pad te bly.

Ek vermoed ons gaan ook baie deur die brief gehelp word.

Paulus spreek soos altyd die seën van die Here oor die lesers uit. Dit word natuurlik dan ook oor my en jou uitgespreek: 2…Mag God, ons Vader, vir julle baie goed wees. Mag Hy vir julle daardie diep vrede gee wat net Hy kan gee.

O, hoe het ons dit nie nodig nie!

Ek sukkel die afgelope tyd met spanning. Dit is verskriklik erg. Ek slaap sleg en as ek aan die slaap raak, skrik ek baie vroeg met ’n ruk wakker. Dit is so erg dat my voorarms lam word van die al die spanning. Ek bid regtig hard daarvoor, maar dit is asof dit net nie wil ophou nie.

My vrou gee haar handsak vir my, maar nie kort daarna nie vat sy dit terug en sy herhaal dit ’n paar keer. Ek vra vir haar of sy nie lekker is nie. Sy sê toe nee, dit is wat ek doen met my spanning: Ek gee dit vir God en dan vat ek dit weer terug.

Dit is miskien so. Aan die een kant bid ek verskriklik hard dat God die spanning moet wegneem. Ek voel heeltemal hulpeloos daarmee. Ek kan glad nie daarteen veg nie en daarom moet ek dit vir God gee, maar op ’n manier bly dit hier in my. Neem ek dit dan weer terug?

Vrede kom van God af. Paulus weet dit, daarom bid hy dit vir al die mense in Kolossense toe.

Soek jy na ware vrede, maak nie saak hoe woes die winde om jou waai en verwoesting saai nie? Jy kan te midde hiervan tog hier binne jou vrede hê. Dit kom net van een Persoon af en dit is God. Net Hy kan ware vrede gee hier diep binne in ons. Daar is niks anders op aarde wat die vrede kan skep en in mense plaas nie. Nee, net God kan ware vrede bewerkstellig.

Dalk wonder jy saam met my: Hoekom sukkel ek dan so met die spanning? Wil God dan nie vir my ook vrede gee nie? Het Hy van my vergeet?

Nee, ek dink tog nie so nie. God gee dit aan almal. Dit is deel van die pakkie wat uitgereik word wanneer jy God se Gees in jou nooi. Maar die mens kom trek ’n streep deur die vrede wat God in ons plaas deur nie ons eie verantwoordelikheid na te kom nie. Ons sit met ’n hoop onvoltooide take, wat vir ons spanning gee, ons plak pleisters oor sere wat baie meer tyd van ons verg en ons draai ons oë weg van verantwoordelikhede wat ons nie na kom nie. Op ’n manier los ons die agterdeur oop vir spanning om in ons lewe te kom tuismaak.

Dalk moet ons gebede anders wees. Dalk moet ons nie bid, Here, gee my vrede en vreugde nie, maar eerder Here, help my om die goed wat vir my spanning gee uit die weg te ruim, sodat die vrede wat U reeds vir my gegee het weer kan blom in my lewe.

Dit is wat ek gaan doen. Ek gaan God vra om my te wys wat gee my spanning, ’n lys te maak en planne te maak om dit op te ruim. Al is dit berge, weet ek God sal my help om weer sy vrede te laat seëvier in my lewe!

Mag jy God se vrede ervaar. Maar meer nog, mag jy God se vrede oor al die mense om jou bid.

Teks

Kolossense 1:1-8

Om oor na te dink

Sukkel jy soms met spanning?

Is jou vrede soms weg?

Laat jy God toe om jou te verander?

Gebed

Vader, ek het U vrede so nodig. Ek kan nie volhou met die spanning nie. Sal U nie asseblief vir my help om die dinge wat my spanning gee aan te spreek nie. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek