Speel jy pop?
18Julle sal ook mense teëkom wat kamma vreeslik nederig leef. Hulle sal julle probeer oortuig dat dit is hoe godsdiens moet wees. Hulle sal ook allerhande engele aanbid en gedurig spog met hulle geestelike ervarings of die gesigte wat hulle al gesien het. Dit laat hulle kamma so godsdienstig en so trots op hulleself voel. Ignoreer hulle. Moenie eens na ’n woord luister wat hulle sê nie. As hulle dink hulle weet wat godsdiens regtig is, slaan hulle die bal ver mis.
Dadelik onderskei ek my van hierdie mense, want ek is nie so nie. Nee, my vriend. Ek loop en spog nie met geestelike ervarings wat ek gehad het of nie gehad het nie. Ek vergelyk my nie met ander oor hoeveel beelde ek al ontvang het, of hoe hard God met my gepraat het of aan hoeveel wonderwerke ek al deel was nie. Dit is geestelike hoogmoed en eintlik glad nie deel van ware godsdiens nie. My godsdiens is nie plastiek nie en ek speel nie godsdiens nie.
Maar as ek van die ander kant kyk, wonder ek of dit regtig so is. Maak ek regtig erns met my godsdiens deur die manier waarop ek vir God dien? Ja, ek weet verseker ek doen nie soos die ouens waaroor daar in vers 18 gepraat word nie. Maar maak ek erns met my godsdiens? Hoekom gaan ek kerk toe? Hoe intiem is my verhouding met God? Wat gaan soek ek daar? Hoekom vertel ek tussen sommige mense ander grappe as by ander? Speel ek pop of godsdiens?
Elke nou en dan moet ons onsself net eers tot stilstand ruk om seker te maak ons is op die regte pad. So maklik raak ons gewoond aan die pad waarop ons hol en dit is dikwels nodig om terug te staan en te kyk of ons nog op die regte pad is.
Ware godsdiens kom hier diep uit die binneste. Hoor wat sê vers 19: Hulle weet nie wat die regte godsdiens is nie, want hulle ken nie die Een om wie alle godsdiens draai nie. Ware diens aan God word nie gemeet in hoe lank jy bid of hoe geestelik jy in die oë van ander mense is nie. Nee, ware godsdiens word gemeet in terme van verhoudings. Die antwoord op die vraag: ”Ken jy regtig vir Jesus?” is bepalend.
Ek ken my vrou. Ek ken haar maniertjies en dinge van doen. Ek ken haar só goed dat daar baie dinge is wat ons nie eers hoef te bespreek nie, want ek weet hoe sy daaroor voel. Dit is slegs moontlik binne ’n intieme verhouding met mekaar. Ons is elke dag deel van mekaar se leefwêreld en bring baie tyd saam deur.
Ek help ’n man wat al ’n hele paar verkeerde keuses in sy lewe gemaak het. Sy oë sit vol trane. Ek kan sien dat hy regtig spyt is oor sy verkeerde besluite en die lyke langs sy pad. Hy probeer regtig hard om die regte keuses te maak, maar om een of ander rede kies hy gereeld die verkeerde een.
Mismoedig roep hy uit: “Hoe kan ek die regte keuses maak? Hoe kan ek stop om verkeerd te kies?” Ek antwoord hom nie, want ek weet hy ken self die antwoord.
“Ek moet seker vir Jesus meer deel maak van my lewe,” antwoord hy later.
Ja, ja en ja! wil ek skree. Want wanneer ons Jesus regtig leer ken in ’n intieme verhouding, raak Sy invloed in ons lewe ’n werklikheid. Dan leer ons die wil van God ken en ons is gehoorsaam daaraan. Dan herken ons Jesus se stem en dit help ons om die regte keuses te maak.
Dan speel ons nie meer godsdiens nie, maar ons dien God orals waar ons gaan. Dan weet ons watter keuse om by die kruispaaie van die lewe te maak. Ons ken vir Jesus en weet wat Hy sou doen. En as ons godsdiens nie net ’n gewoonte is nie, verander ons verhouding met Jesus ons hele lewe.
Teks
Om oor na te dink
Hoe lyk jou keuses?
Beoefen jy godsdiens of het jy ’n intieme verhouding met Jesus?
Hoe kan jy werk aan jou verhouding met Jesus?
Gebed
Vader, ek smag na ’n intieme verhouding met Jesus. Ek weet ek moet meer tyd met Hom deurbring en Hom elke oomblik by my lewe betrek, want dit is die antwoord vir die regte keuses. Amen.