Spreek die seën oor ander
Aan die einde van eredienste spreek die prediker gewoonlik ’n seën oor die gemeentelede uit. Die mees algemene een wat gebruik word, is die een wat in 2 Korintiërs 13:13 staan: Mag die genade van die Here Jesus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees.
Dis ’n wens wat uitgespreek word dat God en Jesus en die Heilige Gees in elkeen van die mense wat dit ontvang, hulle deel sal doen. Die prediker spreek dit nie sommer net uit nie, maar hoop en vertrou en glo dat dit ’n werklikheid in elke mens sal word.
Wanneer ’n mens dus ’n seën uitspreek, moet daar ’n goeie skoot vertroue wees dat dit sal waar word. Soos Isak: 20Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.
Isak het God gesien beweeg in sy lewe. Hy het God ervaar. Hy ken God. Hy ken God se styl en weet waartoe Hy in staat is. Hy glo dat soos God Hom gehelp het, Hy ook by sy seuns sal wees. Daarom dat hy die vrymoedigheid het om hulle te seën. Hy bid as’ t ware God se hand oor hulle vir die toekoms.
En dit doen hy nie net uit tradisie nie, maar ook met ’n sak vol geloof en vertroue dat God Sy deel van die belofte sal nakom en dit so in die toekoms in hulle lewens waar sal maak.
So moet ons ook meer die seën oor ons geliefdes uitspreek. Tog doen ons dit nie. Ons spreek meer die teenoorgestelde oor mekaar uit. As iemand by die werk of skool of waar ook al ons te nagekom is, spreek ons gou lelike dinge oor hulle uit: “Ag, vlieg in jou dinges!” of “Ek hoop sewe sakke swaar val by jou deur in!”.
As ons mooi na die hoop woorde kyk, wens ons darem baie slegte dinge gebeur met dié mense. Dis nie goeie saad wat ons in ons eie wêreld saai nie. Dit is nog minder ’n weerkaatsing van die ware kleure van kinders van God.
Ons moet leer om eerder goeie goeters vir ander toe te wens. En dan moet ons ’n goeie skoot vertroue en geloof bysit dat dit waar gaan raak.
Ek wil baie graag nou die seën oor jou uitspreek, sodat jy geseën kan word om ’n verskil in die wêreld te maak. Ek gebruik die pragtige Franciskaanse seënbede:
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,
halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings,
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.
Mag die Here jou seën met woede oor onreg,
onderdrukking en die uitbuiting van mense,
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense
wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar,
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap verander.
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo
dat jy ’n verskil in die wêreld kan maak,
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
En glo en vertrou dit gaan waar word in jou lewe en die wêreld gaan heel anders lyk.
Teks
Hebreërs 11:20
Om oor na te dink
Hoe lyk jou woorde?
Wat spreek jy?
Oor wie kan jy God se seën spreek?
Gebed
Vader, plaas asseblief ‘n wag voor my mond, sodat ek nie skade met my woorde sal doen nie. Maak my hart vol van U liefde, sodat my mond net daarvan sal oorloop. In Jesus se Naam, amen.