God se Woord in vandag se woorde

Spreek dit!


Efesiërs  6:10-20

Sjoe, hier kom ons aan die einde van Efesiërs. Ons het honderd keer die pas makeer. Dit was nie so beplan nie, maar voorwaar ’n mylpaal. Paulus se briewe is so vol leerstof en ek is seker daarvan as ons nou weer deur die brief sou blaai, gaan ons nog stukkies kry wat ons gemis het. Ek besef al hoe meer dat die Bybel deur God geïnspireer is en dat dit nooit sal opraak nie. Nou vir die laaste boodskap:

Die afgelope tyd is ek so baie bewus van negatiewe goed wat ’n mens sommer so vinnig hier by jou mond laat uitglip. Mense praat voortdurend negatiewe en afbrekende woorde en ons het glad nie ’n idee van die impak daarvan nie.

As ek aanhoudend vir my kind negatiewe goed sê, sal hy of sy dit uiteindelik glo en dan is die kans goed dat hy of sy op die ou end so sal word. Ons moet pasop, want baie maal word dit wat jy sê, waar.

Paulus weet dit, daarom sluit hy sy brief af met hierdie positiewe woorde: 24Mag God, die Vader, en die Here Jesus Christus vir julle die vrede gee wat net God kan gee. Mag die Vader en Jesus Christus vir julle die liefde en geloof gee wat julle nodig het. Mag God baie goed wees vir almal wat ons Here Jesus Christus vir ewig en altyd sal bly liefhê.

Paulus sal nie sommer net iets sê, omdat sê, sê is nie. Nee, hy spreek iets uit wat hy glo wel in die hoorder se lewe kan gebeur. Hy spreek nie iets omdat hy hóóp of vermoed iets kan gebeur nie. Nee, hy gló met sy hele hart dit kán gebeur.

Ons moet dit ook glo. Ons moet dit ook bely. Ons moet dit in ons gedagtes vashou. Ons moet dit op ons tonge sit. Lees daarom die volgende gedeelte:

Mag God vir ons vandag vrede gee.

Mag God vir ons vandag liefde gee.

Mag God vir ons vandag geloof gee.

Mag God vandag vir ons baie goed wees.

Mag ons vir ewig en vir altyd vir God liefhê!

Glo dit met jou hart. Spreek dit, maar spreek dit ook vir al die ander mense.

Ek glo dit met my hele hart en hier waar ek nou moet klaarmaak en die dag moet inloop, glo ek dat ek vrede sal vind. Ek glo dat ek op ’n manier êrens ’n groot stuk liefde sal ervaar. Ek sal aanhou glo, al slaan daar branders oor my kop. Ek gaan om elke hoekie en draaitjie soek waar God se goedheid vir my wag.

Vir ewig en altyd sal ek vir God lief wees met alles in my!

Kom ons storm vandag die wêreld in en hou nie op met babbel oor die goeie en die mooi dinge nie. Kom ons bêre vir eers ons swaarde en ons spreek net die goeie vir al die mense om ons. Ja, ook vir ons vyande.

Om oor na te dink

Wat het God vir jou gedoen?

Vir wie kan jy ook die seën toebid?

Aan wie moet jy vandag ’n stuk genade uitdeel?

Gebed

Onse Vader, dankie dat U om elke hoek en draai vir ons vrede en liefde gee. Dankie vir geloof en dat ek kan glo dat U vir my die beste wil gee. Ek het U baie lief. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek