God se Woord in vandag se woorde

Steen en been


Filippense 2:12-17

14Doen alles sonder om te kla of te stry

Sjoe, dis darem vinnig so op ’n nugter maag. Maar is dit nie wat ons almal doen nie? Sodra iets in ons lewens gebeur wat nie lekker is nie of selfs net ’n uitdaging wat ’n bietjie te veel energie trek, is ons gou om te kla. Ek klim baie gou op my gebedstelefoon as ek begin swaar trek en dan kla ek by God. Hoekom gebeur dit nou al weer? Hoekom is dit net ek wat so swaar moet trek? Kyk na die ander mense om my. Hulle kry al die lekker. En so kla ons al die pad.

Ek dink ons kla te maklik omdat ons nie regtig verstaan waaroor dit gaan nie. Ons kla uit ons onwysheid en ons kyk net teen die probleem vas. Ons sien nie die hele prentjie nie en die maklikste om te doen, is kla.

’n Vriend nooi my om die Global Leadership Summit by te woon. Een van die onderwerpe is terugvoer. Wat maak ons met terugvoer? Wanneer ons terugvoer van iemand anders kry, trek ons gou stywe nekkie as dit nie is wat ons wou hoor nie. Soms gaan ons na ’n ander persoon op soek na die teenoorgestelde opmerking. En wat sê my vriend teenoor wie ek kla? “Haai, sies dis darem nie mooi van persoon A om dit van jou te sê nie.”

Maar dalk bedoel jou vriend dit glad nie. Jou vriend voel miskien net soos persoon A, hy weet sy praat die waarheid, maar omdat jy kla en nie die terugvoer met wysheid hanteer nie, neem jou vriend die maklikste uitweg en sterk jou in jou opstandigheid. Nog ’n kans om te groei gaan verlore omdat jy kla, in plaas daarvan dat jy volwasse optree en die terugvoer van die ander tot jou beswil gebruik.

Ons moet onthou dat ons nie ’n binnebaan kry nie. Omdat ons in God glo, raak die omstandighede nie makliker nie. Inteendeel! Baie se lewens word net moeiliker omdat hulle vir hulle geloof opstaan. Ons moet onthou dat ander ons dophou. Ons moet juis vir hulle wys dat ons wys is, dat ons nie onder druk sal vou nie en dat ons ons swaar soos kinders van God sal dra.

Nee, dis nie maklik nie en soms voel dit vir my of ek byna my tong deurbyt om nie my mind te speak nie. Maar dan keer ek kliphard, want ek weet dit wat nou hier gaan uitkom gaan nie bevorderlik vir God se Koninkryk wees nie. Maar menigmale het ek al hier gestruikel. My bloed kook net te gou en as ek my weer kom kry, kla ek volstoom.

Ons almal duik soms maar in hierdie hek. Maar ons moet opstaan, die stof afstof en weer probeer. In die weer en weer probeer raak ons al hoe sterker en met die ondervinding onder die knie kla en stry ons al hoe minder.

Ek leer so baie by Christa:

As ek op my lewenspad teruggaan, is God wonderlik.  Op 27 het ek ’n histerektomie en masektomie gekry met 3 klein kindertjies.  Maar my wonderlike man staan my by tot vandag toe. 

In 2009 is ons 8 dames in ’n kombi op pad terug van opleiding. ’n Groot trok met ’n sleepwa maak ’n U-draai en ons kombi bots teen die trok. Een verloor haar lewe. ’n Ander het ernstige beserings met operasies wat volg. Ek is deur 8 rugoperasies, maar vir God is niks te veel nie. 

Ek word ernstig siek met Osteoartritis, Parkinson’s epilepsie en verkalkte are in my kop.  Maar God help.

Ek word aangeval op my plaas met my eie vuurwapen teen my kop, maar God spaar my.

In Februarie ry ek en ’n vriendin Magoebaskloof in. Ons motor gly en ons rol teen die berg af. My vriendin klim op haar knieë terug na die pad toe. God stuur iemand om ons te help.

God help mense wat glo.  Daai skip gaan inkom en ek sal wel weer die regte mediese behandeling kry. Glo net is die antwoord.

Ek staan verwonderd oor Christa se storie. Die een terugslag na die ander, met geen klagtes – net eer aan ’n God wat help.

As ek eendag groot is, wil ek ook die lewe se terugslae hanteer sonder om te stry en te baklei.

Om oor na te dink

Hoe hanteer jy die swaar in jou lewe?

Stry jy soms?

Kla jy soms?

Gebed

Onse Vader wat in die hemel is, ek sukkel hier, want sodra dit nie gaan soos ek dink dit moet gaan nie, worstel ek. Dan kla ek baie. Jammer, daaroor. Help my om die groter prentjie te sien. Help my met wysheid sodat ek nie so baie steun en kla nie. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?