God se Woord in vandag se woorde

Stil word vir die Heilige Gees om te praat


Ek kyk ’n ouerige fliek waar ’n dogter op ’n afgeleë grondpad duimgooi. Eers kom daar ’n man wat voortdurend besig is op sy foon verby. Hy ry haar amper om. Daarna kom ’n bakleierige man en vrou verby. Die man hoor ’n sagte stem “laai haar op,” maar sy vrou weier dat hulle haar optel. ’n Derde motor kom verby en weer is die stem daar. Die vrou stop en tel die duimgooier op.

Net ’n entjie verder stop die polisie hulle. Die pad het oorspoel en hulle moet terugdraai. ’n Entjie terug is daar ’n klein restourantjie en almal stop daar. Die eienaar is alleen en op sy naambordjie staan: “Jesus”. Dit is ’n wonderlike film wat op ’n praktiese manier Jesus se omgee uitbeeld.

Jesus begin by die voortvarende man en vra hom of hy nie Sy stem gehoor het nie? Die man het egter nog nie Sy hart vir Jesus gegee nie, en kon Hom nie hoor nie. Hy vra toe die paartjie of hulle nie Sy stem gehoor het nie. Die man sê ja, hy het dit gehoor, maar sy vrou wou nie hê hy moes haar optel nie. Die derde vrou het wel gehoor en gedoen.

Dis so ’n eenvoudige beeld, maar so waar vir ons elkeen se lewe. Ek wil waag om te sê dat ons die meeste van die kere soos die getroude paartjie is. Ons is so besig met die lewe se dinge, dat ons nie die Heilige Gees hoor nie. Ja, soms bid ons vir leiding en vra dat God ons tog sal help om die regte keuses in die lewe te maak, maar ons gaan sit nie stil en wag om die Heilige Gees se stem te hoor nie.

Miskien net dit sê oor die stem van die Heilige Gees. Wanneer ons praat van ’n stem wat gehoor word, dan dink ons dit moet ’n hoorbare gefluister in ons oor wees. Die Heilige Gees praat met die meeste van ons nie so nie. Nee, Hy “praat” hier binne ons waar Hy met ons gedagtes woel, sodat ons op die ou end presies weet wat ons moet doen.

Ons lewe sal soveel makliker wees, daar sal soveel minder probleme, kneuskolle en seerplekke wees, as ons ons instel en tyd maak vir die Heilige Gees om in ons te woel. Ons moet onthou dat die Heilige Gees Sy intrek in ons lewe neem wanneer ons ons hart vir die Here gee. Dit kom saam met die pakkie en is nie ’n opsionele item nie. Verder is dit ’n opdrag dat ons na die Heilige Gees moet luister: 7Luister na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, 8moet julle nie ignoreer wat Hy sê nie.

En as jy Hom gehoor praat het, gaan doen dit. Moenie langer aankarring op die ou manier nie. Aan die einde van daardie pad, lê daar net verwoesting. En hiervan kan ek uit my eie lewe getuig. Plekke waar ek geweet het die Heilige Gees nie wil hê ek moes gaan nie, waar ek wel gedraai het. Die pyn was onmenslik en net my eie skuld.

Daarom, kom ons maak ’n punt daarvan om elke dag stil te raak. Dalk moet jy ’n stuk of wat deur die Woord lees of musiek luister wat jou sal help om weg te beur van die wêreld. In hierdie stilte sal die Gees jou lei en met jou praat. Staan dan op en gaan doen dit. Dit is die pad van die waarheid waar ware vrede en vreugde lê!

Teks
Hebreërs 3:7-19

Om oor na te dink
Hoor jy die Heilige Gees?
Wat moet jy doen om die omstandighede so in te rig dat jy die Heilige Gees se stem beter kan hoor?
Doen jy dit wat jy weet jy moet doen en nie moet doen nie?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek nie lekker die Heilige Gees se stem hoor nie. Ek weet ek sit nie stil genoeg nie. Ek begeer om Sy stem te hoor. Help my om tyd in te ruim en net te gaan stilsit. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek