God se Woord in vandag se woorde

In stilte op God se stem


Efesiërs  6:10-20

Ek sukkel om te bid.

Dit is nie omdat ek nie wil nie. Nee, ek sukkel om my gedagtes te rig. Ek sukkel om te konsentreer en probeer my bes om te fokus. Maar as ek aan die einde van my gebed terugkyk, het ek onder andere my karavaan se afdak se probleme opgelos en gedink aan waar ek nog in God se Koninkryk kan saai en nog vele meer. Ai, ek kan net nie my gedagtes die heeltyd in my gebed vashou nie.

Tog moet ons nooit ophou bid nie. Die krag van gebed moet ’n mens nooit onderskat nie. Corrie ten Boom het gesê dat gebed die enjinkamer is van elke gemeente. As daar dus nie veel gebede uit ’n gemeente opgaan nie, gaan daardie gemeente nie vêr kom nie.

Dit geld ook vir jou en my. As ons nie genoeg bid nie, gaan ons enjin nie vinnig genoeg loop om ons êrens in die wêreld te bring nie. Daarom: 18Dit maak nie saak wat gebeur nie, julle moet altyd bid. Praat met God en vra Hom wat julle wil weet.

Ons moenie ophou bid nie! Bid die hele dag! Vir elke liewe dingetjie, bid! En weet jy wat? 18… Die Heilige Gees sal julle daarmee help

Elke dag worstel ’n mens met ’n klomp dinge. Ons kom by die kruispaaie van die lewe en weet nie herwaarts of derwaarts nie. Vir elke vraag is daar teenoorgestelde antwoorde. Selfs mense wat ons vra se antwoorde stem nie ooreen nie. Daar is mense wat groot beroepskeuses moet maak. Sommige moet besluit wat met die kinders moet gebeur. Maar ook gewone alledaagse keuses. Hoe weet ’n mens wat is die regte een?

Ons sukkel om stil te word, maar wanneer die paw paw die fan strike, roep ons gou na Bo. Ja, hulle sê mos nood leer bid. En ons gryp met alles wat ons het na God en verwag dan dadelik die kitsoplossings waar ons net water hoef by te gooi. So amper soos toe Jesus water in wyn verander het.

Dit is reg, ons kan vra, ons moet vra, want God het tog altyd die antwoord, maar nou kom die groot vraag: Wag ons altyd op ’n antwoord? Wag ons om God se stem te hoor, of gee ons maar net opdragte hier van ons kant af?

Ons moet wag op God se stem. Dalk nie ’n hoorbare geritsel in jou oor nie. Is daar genoeg tyd dat God in jou gedagtes kan werskaf sodat jy jou antwoord kan kry?

Daar is duisende stories wat ’n mens kan vertel van gebed wat werk. Hier is ’n eenvoudige, kragtige een:

Ek laai my seun by die skool af en met die terugry stop ek by ’n vrou wat langs die pad loop. Ek het gestop by die vrou en haar ’n lift gegee. Ek kon sien sy is hartseer. Ek vra haar: “Nee, mama, wat is fout vanoggend?

Sy vertel sy soek werk al vir 3 dae en dat sy so moedeloos is, want sy kry nêrens werk nie.

Ek sê toe: “Kom ons bid net saam en vertrou daar sal wel werk kom.” So bid ek en sy in my kar voor ek haar aflaai.

Ek kry haar weer so maand terug langs die pad. Sy omhels my en sê: “Mama, ek het werk gekry vir elke dag van die week. Dankie dat Mama saam met my gebid het”.

Ek is skoon in trane en ons bid weer saam om vir die Here dankie te sê vir Nannatjie se werk!

My vriend, kom ons maak tyd om stil te word voor God. Kom ons maak nou ’n date. Kom ons gaan raak stil sodat ons weer vir God hier in ons gedagtes kan hoor. En onthou, moenie ophou bid vir jou gesin, vir jou vriende, vir die vreemdes en die swakkes en ook vir jou vyande nie. Eintlik is dit soort van ’n opdrag: 18… Onthou dit en moenie julle onkant laat vang nie. Moet ook nie vergeet om gedurig vir julle mede-Christene te bid nie. En moenie van my vergeet nie.

Om oor na te dink

Hoe laat kan jy elke dag ’n afspraak met die Here maak?

Wat wil jy van Hom hoor?

Waarmee sukkel jy?

Gebed

Onse Vader wat in die hemel is, dankie dat U ook hier op aarde is. Dankie dat U my nou hoor. Ek wil so graag meer tyd saam met U bestee. Ek wil by U hoor hoe ek moet maak. Help my om daagliks ’n afspraak met U te maak en dit na te kom. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?