God se Woord in vandag se woorde

Stoei vir Jesus by WWE


Shawn Michaels was ’n wêreldkampioen in WWE-rofstoei. Dis daai manne wat mekaar so rondgooi en dan gaan derduisende mense mal. Hy het voluit vir die sport gegaan en wou ten alle koste die hoogste plek bereik.

Dit het goed gegaan in die kruit, maar in sy persoonlike lewe was dit chaos. Hy het nie lekker geweet wie hy is nie. Alhoewel hy baie se held was en roem orals om hom was, was dit nie genoeg nie en het hy dwelms probeer. Hy kon homself net nie vind nie. Hy sê dat die dwelms ’n wegkruipplek was waar hy van homself kon weghardloop.

In die proses het hy ’n ernstige moeilikheidmaker by die WWE geword en is hy geskors.

Eendag sit hy met sy seun op die bank. Hy was so-effe hoog, toe hoor hy sy twee-jarige seun vir hom sê: “Pappa moeg”. Net daar, in een oomblik, het hy besluit om op te hou met die dwelms.

Die volgende dag het hy kerk toe gery. Hy het ingestap en gesê hy wil graag ’n Bybelstudie hê. Later het die pastoor vertel dat hy gedink het dat dit ’n poets is wat die WWE op hulle bak en dat hulle êrens in ’n kruit moet gaan veg. Maar, sê Shawn, ek was net daar om die Here te soek.

Een van die ouens daar nooi hom toe na hulle groep. Die Woensdagaand word hy genooi om die sondaarsgebed te bid en hy aanvaar vir Jesus as sy persoonlike Saligmaker. Hierdie groot man het soos ’n baba gehuil. Skielik het hy geweet wie hy is, omdat hy sy identiteit in Jesus gekry het.

As gevolg van ’n rugbesering het hy in die tyd nie gestoei nie. Sy status as moeilikheidmaker het nie veel gehelp nie. Maar eendag toe hy op ’n vliegtuig sit, lees hy in Joshua van die krag wat God die mens gee en hy besef dat dit is wat God ook vir hom gee. Toe hy by die lughawe afklim, bel hy die hoof om te sê hy is reg. Hy weet hy kan dit doen.

Hy is terug om sy laaste geveg te veg, maar stoei toe vir nog agt jare – sonder enige rugpyn. Hy sluit op ’n hoogtepunt af, waar hy in 2008 voor ’n skare van 80 000 as oorwinnaar oor die Undertaker uit die ring klim.

Hoekom vertel ek die storie, want dis omtrent ’n herhaling van Debbie se storie wat hoog op heroïen was toe sy die Nuwe Testament gelees het en die volgende Vrydag kragtig tot bekering gekom het? Net om dieselfde punt weer te bewys: God draai mense kragtig om en maak hulle splinternuut.

Paulus vertel ook vir die tweede keer in ’n paar verse weer hoe Onesimus nuut geword het: 16Nie meer as ’n slaaf nie. Nee, hy is nou baie meer as dit. Jy kry Onesimus nou terug as jou broer in die Here; as iemand vir wie jy baie lief moet wees. Onesimus was ’n wonderlike broer vir my terwyl hy saam met my in die tronk was; hoeveel te meer sal hy dit nie vir jou wees nie. Jy kry nou ’n splinternuwe mens en ’n broer in die Here terug.

Net so ten slotte: Shawn vertel ook dat sy vrou die heeltyd vir hom Jesus gewys het deur haar manier van lewe en bid sonder ophou. Haar eenvoudige gebed was: “Here, kry hom asseblief reg.”.

Daarom, moenie hoop opgee nie, bly glo en bly bid.

Teks
Filemon 1:15-20

Om oor na te dink
Vir wie moet jy bid?
Is daar dalk iets in jou waarvan jy nog ’n slaaf is?
Wat moet jy anders doen?

Gebed
Vader, dit is so goed om te hoor dat wanneer mense by U kom, U hulle nie wegjaag nie. Inteendeel! U vergewe en draai hulle 180 grade om. Dankie dat U ’n liefdevolle Vader is. Sonder U sou ek dit nie gemaak het nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek