God se Woord in vandag se woorde

Stop dit dadelik


Jana (skuilnaam) stuur die e-pos aan my:

’n Vriendin se man het ’n probleem. Die ergste is dat die man sy hart vir Jesus gegee het en toe lank daarmee opgehou het. Maar toe trap hy maar weer in die strik wat satan vir hom gespan het.  Die persoon vertel my dat as sy wakker word, is haar man nie meer in die bed nie – dan weet sy presies wat aangaan.

Sy sê dis asof sy yskoud word en haar hart gaan staan en dan ewe skielik weer in haar keel begin klop. Haar man kom partymaal nie eens agter dat sy in die gang na hom staan en kyk nie. Sy huil haar daar alleen in haar bed aan die slaap…

Ek dink dis die seerste seer wat ’n man aan sy vrou kan doen… dis nou wel nie dat hy haar fisies verneuk nie, maar tog doen hy dit elke dag. Hy kan basies nie wag dat vroulief aan die slaap raak om by die TV uit te kom nie.

Ek  glo nie enige vrou wil by haar man slaap as hy nou net sy oë op die ander vrouens gehad het nie. Ek glo nie enige vrou wil soos ’n spaarwiel voel nie. Jy as vrou wil voel jou man dink jy is spesiaal en mooi.  Want as die vrou lê en slaap en manlief spring in die bed met planne, weet sy dat dit nie sy is wat hom so laat voel nie. Die vrou voel vuil, gebruik, misbruik, nie goed genoeg nie, haar hart bloei van binne.

Hoe dink enige regdenkende man? My vriendin sê sy haat dit om intiem met haar man te verkeer, omdat dit nie uit liefde is nie. Sy hou nie daarvan as haar man aan haar vat nie. Sy word al hoe kouer teenoor haar man hoe langer die dinge aangaan. Sy wil nie eers meer met haar gesin uitgaan nie. Sy voel dood van binne.

Die arme vrou voel daar is iets groots fout met haar omdat haar man alewig op die TV na die vieslike goed sit en kyk. Sy voel soos ’n porseleinpop met ’n hengse kraak en nog net een stampie dan gaan sy heeltemal breek. 

Dit maak haar depressief, woedend, geïrriteerd, mislik, opstandig en maak ook dat haar geestelike lewe baie daaronder ly. Ek wens daar was ’n manier hoe daai man kan agterkom hoe seer dit sy vrou maak. Net een minuut en hy sal dit in sy lewe nooit weer doen nie…

Hoe help ’n mens ’n vriendin in so ’n situasie? Dit gaan baie sterk “gom” vat om weer die krake of seer reg te maak…

Ek dink nie ek het al ’n eerliker beskrywing van die invloed van pornografie op die eggenoot gesien nie.

Ons liefdevolle God draai nie doekies om nie: 5Moenie toelaat dat dinge waarvan Jesus nie hou nie, enige rol in julle lewe begin speel nie. Raak daarvan ontslae sodra dit in jou lewe kop uitsteek. Ek praat van dinge soos ontoelaatbare seks of vuil gedagtes wat op vieslike optrede uitloop. Om sulke dinge net te loop en begeer is al verkeerd. En dan is daar mense wat nooit genoeg kan kry nie. Hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê. Asof dit hulle god is, wy hulle al hulle tyd en energie daaraan om net al hoe meer in die hande te probeer kry.

6Hierdie soort dinge maak dat God mense straf. Hulle steur hulle mos nie aan wat God wil hê nie.

Teks

Kolossense 3:5-6

Om oor na te dink

Besef jy die impak van pornografie?

Is daar ’n paar skuiwe wat jy moet maak?

Hoe gaan jy dit maak?

Gebed

Vader, help ons elkeen om U waarskuwing ernstig op te neem. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek