As die Heilige Gees praat
Ek was ’n Sekretaresse en het ’n kantoor gedeel met ’n vrou wat aan veelvoudige Sklerose gely het. Eendag het sy flou geword en hulle moes haar huistoe neem.
Dit was my taak om ons kantoor se gordyne toe te trek en die deur te sluit, huistoe-gaan-tyd.
Ek was altyd eerste by die werk en sy was gewoonlik so 15 minute na my, maar toe ek die kantoor instap, was die gordyn aan haar kant halfpad oopgetrek en die lig het op ‘n klein oop Bybeltjie geskyn.
Ek het net begin huil – ek kon voel iets was fout. Ek het haar dadelik gebel maar sy het nie geantwoord nie. Personeellede het begin opdaag, gesien ek huil en gevra wat is fout. Ek het verduidelik maar hulle net gelag en gesê ek is paranoies.
Ek het haar eks-man geskakel en hom gevra om te gaan kyk (hy het ‘n sleutel gehad), maar hy het dieselfde gevoel as die ander.
Al my oproepe was nog steeds onsuksesvol. Toe besluit ek – tot hier toe en nie verder nie. Ek bel toe weér haar eks-man en sê vir hom: “Jy moét ry, maar nie netnou nie – nou dadelik, want iets is fout – groot fout” en ek het weer begin huil.
Hy het gesê hy sal dadelik ry en my laat weet. Hy het haar bewusteloos, naby die foon in die sitkamer gekry en die ambulans gebel.
Die volgende dag het sy my ’n stywe drukkie gegee en bedank. Sy het gesê dat sy aanhoudend gebid het dat die Here tog net iemand stuur om haar te help. As die Here my nie daardie duidelike tekens gegee het nie, weet ek nie wat sou gebeur het nie!
Hy het my gelei om haar te red. Halleluja!
Annette
19Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na sy stem.