God se Woord in vandag se woorde

Die Here is my toevlug


‘n Kort tydjie gelede het ek die volgende gebedsversoek aan Kruispad se gebedsbediening gerig: My seun was in ‘n motorfietsongeluk en het sy sleutelbeen van sy skouer afgebreek en kort dringend ‘n operasie. Ongelukkig het hy tans nie medies nie, so bid asb saam met ons vir Vader se voorsiening vir die regte Dokter en fondse!

En nou staan ek met ‘n hart vol dankbaarheid en verwondering oor God se getrouheid. Baie dankie vir die bemoedigende e-pos van die reaksiespan asook julle gebede! Ek sit nou hier in trane, so ek deel graag met julle dat ons op 26 November 2018 ‘n wonderwerk beleef en gesien het!

Ek besef weereens vandag en elke dag dat ons ‘n liefdevolle en getroue Vader dien! Na vele kwotasies en planne wat ons probeer maak het, het ons selgroep onder mekaar ‘n goeie bedraggie geld ingesamel. Dit was egter nog nie genoeg nie, so ek het by Vader se voete gebly vir uitweg!

Nooit kon ons droom hoe Vader gaan voorsien nie! Ons laaste opsie was ‘n staatshospitaal en dit het my hart koud gelaat. Tog het ek bly bid vir die regte Dokter en hospitaal! Dit gebeur toe ook so dat ons ‘n Dokter kry wat vir my seun ‘n verwysing gee na George se staatshospitaal. Die Dokter het gesê hulle moet net een of twee x-strale neem om presies te sien waar dit moontlik begin vasgroei het. Met groot verbasing het hy die verwysingsbrief opgeskeur en gesê hulle hoef nie te opereer nie!

Sy skouer het so mooi aangegroei, mens kan amper sê hy het ‘n nuwe skouer binne ‘n week gekry. Selfs die Dokter kon nie glo dit is dieselfde kind wat seergekry het nie! Ek kan nie in woorde uitdruk hoe dit voel nie. Ek weet dat ek weet ek kan ‘n bende stormloop met my Vader aan my sy!

Die hele situasie het só baie mense geraak, maar die grootste van alles my seun (en nou huil ek alweer). Hy het besluit hy wil sy lewe en alles wat uit plek uit is (soos sy skouer was) verander! Ons selgroep is sommer van vooraf versterk met nuwe moed.

Weereens net ‘n bewys van die krag van gebed en ons Vader se Vaderhart vir ons!

Mariaan

Psalm 73:28 
Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al U werke bly vertel.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek