God se Woord in vandag se woorde

Erken Sy wonderwerke!


Ek is onlangs deur ‘n moeilike tyd …

Ek is vir die eerste keer baie opgewonde na die Aardklop Nasionale Kunstefees. Ek ry drie ure van die plaas om daar te kom. Gaan 10 uur die oggend by ‘n teater in vir my eerste vertoning.

Toe ek my foon op ‘silent’ wil sit, sien ek my pa het gebel. Ek bel toe dadelik weer terug (vanuit die teater), want my pa bel amper nooit. ‘n Vreemde dame antwoord. My pa het inmekaar gesak en kort ‘n ambulans. (Hy was in die stad om inkopies te doen – 2 ure weg van ons huis) Ek bel onmiddellik en hy word ongevalle toe geneem. Ek laat val alles en jaag deur na die hospitaal. Hulle vermoed ‘n beroerte. Na noodbehandeling sit hulle hom op bloedverdunners. Hy word oorgeplaas na ‘n hospitaal naby aan ons.

Na ‘n paar dae word hy ontslaan met geen permanente skade. Sy eerste aand by die huis maak my sus al sy mediese verslae oop (wat geseël was en vir ons huisdokter se oë bedoel is). My dogter van 18 (wat met haar hele hart medies wil gaan swot) lees als. ”Mamma, oupa het nie beroerte gehad nie – hy bloei inwendig”. Dis haar ‘diagnose’.

Ek maak toe ‘n afspraak by ons huisdokter. Gee hom als om te lees en vertel hom van my pa se insident en al sy simptome. ”Staak onmiddellik die bloedverdunners – jou pa gaan homself doodbloei” is sy woorde! Ons storie is nog nie klaar nie, maar ek besef toe, ek het in ‘n paar dae ‘n paar wonderwerke beleef.

1. Ek was ‘n uur weg van my pa toe hy inmekaar gesak het

2. Hy het inmekaar gesak nadat hy twee ure gery het om in die stad te kom, en nie terwyl hy bestuur het nie.

3. Hy was ‘n klipgooi weg van ‘n hospitaal af en nie 45 minute weg soos wat dit is van ons plaashuis na die hospitaal nie.

4. Hy was nie alleen soos hy wel sou gewees het op die plaas as die insident by die huis gebeur het nie. My man sou eers die aand sewe uur besef het daar’s fout.

5. My nuuskierige sus het die uitslae en verslae oopgemaak om te lees en my dogter se ‘diagnose’ het gelei tot ‘n afspraak met ons huisdokter. As dit nie vir dit was nie, sou my pa beslis homself doodgebloei het!

Vyf, ja vyf wonderwerke wat reg voor my oë afspeel. En ons dog wonderwerke gebeur net in die tyd van die Bybel. God is lewendig en alomteenwoordig! Amen.

Karen

Psalm 9:2

Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van U magtige reddingsdade vertel.

 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek