God praat vandag nog
Die Here voorsien: Genesis 22:14 – As 24-jarige student is ek na ‘n troue genooi. Ek het nie ‘n date gehad nie, maar my ma het gesê ek moet gaan, want ek gaan my vrou daar ontmoet. Ek het gelag – dit was die laaste lag, want daar ontmoet ek toe my vrou, Stephanie. Vandag is ons 17 jaar getroud. Op die aand van ons verlowing vra ek haar toe om in haar dagstukboekie te lees wat God van ons verlowing dink. Op daardie presiese datum is die opskrif: ”Dis nie goed vir die mens om alleen te wees nie – ek sal vir hom ‘n hulp en ‘n maat maak”. Wat kan ek meer sê?
Ek is maar ‘n stadsjapie en nie goed met my hande nie. My pa was darem altyd naby om te vra as iets verkeerd gaan. Maar toe trek my pa-hulle. Daardie aand het ek gehuil voor God en gesê:”Ai Here, ek het nie meer ‘n pa nie – ek het Woord nodig dat U nou na my sal kyk”.
Daardie aand lees ek Psalm 32:8. Die Here sê: “Ek sal my oog op jou”. Kort daarna breek die waterpyp in ons huis. My pa was nie daar nie, maar ek het Psalm 32:8 gehad en God het Sy woord nagekom – my vriend het gekom en dit vinnig reggemaak. God is so getrou.
Ek het in ‘n gevangenis gewerk as ‘n maatskaplike werker en in 1997 voel ek geroep deur God om ‘n bemoediger te word – weer het ek Bybel toe gegaan en vir God gevra om vir my Woord te gee. Ek lees toe Handelinge 4:36: “Daar was ‘n man, Barnabas, seun van bemoediging.” Ek het vir God gesê dat ek maar ‘n skaam ou is en nie goed kan praat nie. Weer gee hy Woord vir my daar in die tronk waar ek gewerk het – Exodus 4:11-12 “Ek het jou mond gemaak, Ek sal deur jou praat”. Dis nou amper 20 jaar en sedertdien het God my gehelp om duisende mense te bemoedig.
Die storie eindig nie daar nie. Ek was besig met my Doktersgraad en het na ‘n jaar geen vordering getoon nie. Een oggend huil ek voor God:”Ek is in elke geval nie slim genoeg om ‘n doktersgraad te kan kry nie, Here, ek het nie eers een onderskeiding in matriek gehad nie. Ag Here, gee vir my Woord asb”. Ek maak toe my Bybel oop en lees Efesiërs 3:20: “Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.” Ek het God daaraan herinner elke keer as ek gestress het. Vandag is ek Dr Danie Rossouw. Ja! God het Sy Woord gehou.
God voorsien nie altyd op die manier wat ek gehoop het nie. Ek en my vrou was al 15 jaar getroud en het hard probeer om kinders te kry, maar niks het gewerk nie. Ons het bly bid en God vertrou. Vandag het ons ‘n pragtige seuntjie in pleegsorg by ons. God luister na ons gebede en hoor as ons vra.
Daniel
Skrifgedeelte: Psalm_119:105
105U Woord wys my presies hoe ek moet leef, soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap.