God se Woord in vandag se woorde

God se meesterplan


Ek was die jongste en het ’n ouer broer gehad. Hy is op 7 maande gebore en het as gevolg van ’n tekort aan broeikaste by die staatshospitaal waar hy gebore is, breinskade opgedoen.

Ek en hy is albei getroud in 1993. Ag jaar later is hy geskei. My broer het later begin siek word, waarna hy weer by sy gewese vrou gaan woon het. Later het hy die sekuriteitswerk wat hy gedoen het, verloor en sy gewese vrou het nie meer kans gesien om vir hom te sorg nie.

Ek het daardie aand my broer, wat toe reeds 32 jaar oud was en slegs 45kg geweeg het, gaan haal. My binneste was bekommerd.

Ek het begin bid om vir die Here te vra om vir ons ’n pad deur hierdie woestyn te maak. Ek wou graag uitvind wat veroorsaak dat hy so siek is.

So neem ek my broer (wat geen medies en werk het nie) na ’n medi-Cross kliniek en betaal vir sy konsultasie. Voorwaar het God toe reeds ons pad gelyk gemaak. My moeder het saam met ons gegaan.

Na die doktersondersoek word hy met dieselfde siekte as my ma gediagnoseer – Nero-inframitose. Weens die beroerte wat hy gehad het, het hulle ’n swart kol aan die binnekant van sy brein gekry. Toe maak Vader nog deure oop en die dokter verwys ons na haar beste vriendin wat spesialiseer op Nero-Chirurgiese gevalle.

Na MRI scans is hy gediagnoseer met aggressiewe kanker. My broer het so verswak dat hy nie meer kon loop of sien of hoor nie. Hy is kort daarna na Jesus toe.

Intussen het my huwelik in so ’n mate agteruit gegaan dat my man my emosioneel en fisies begin mishandel het.

Ek het baie keer met blou arms werk toe gegaan en maar verbloem wat regtig by die huis gebeur het. Nag na nag het ek gebid en gehuil.

Ek het 16 jaar vir my man gebid. Ek en my kinders moes telkemale vlug van die huis af om te keer dat ons nie seergemaak word nie. Ek was met ’n broodmes teen die keel gedreig, by ’n paar geleenthede gedreig om geskiet te word, een geval waar hy die pistool teen my kop gedruk het en al wat ek gevra het is: “Here, stuur asseblief engele om my te beskerm.”

Deur dit alles het die Here nooit my hand gelos nie. Sommige dae wil jy jouself oprol en in ’n donker hoekie gaan wegkruip sodat niemand jou kan sien nie, maar dan kom die Here Jesus en Hy lig jou kop op en sê: “Kom, my kind, Ek is hier om jou vas te hou.”

Tot een dag 6 jaar gelede: Sy hele familie is bymekaar vir Kersfees. Hy het nog 6 biere gaan koop om die dag te vier. Toe hy die tweede bier halfpad gedrink het, kom die volgende woorde uit sy mond: “Ek is klaar”. My reaksie in my binneste was: “I wish”.

Maar dit was dié keer sy eie keuse, sy eie wil, sy eie besluit! Daarna het hy ’n ernstige pad met die Here begin stap. Ons is nou vir 6 jaar in ’n musiekbediening betrokke. Die Here het my man verander. Soms is ons tyd nie God se tyd nie, maar ek verseker u God se tyd is altyd perfek.

Hy ken ons beter as wat ons onsself ken, en dus weet Hy watter pad ons moet loop om op die regte tyd die regte besluite te maak.

Vader het ’n meesterplan vir elkeen van ons uitgewerk. Soms probeer die vyand om ’n stokkie in die wiel te gooi, maar Vader sê Hy laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet en Hom vertrou en glo.

Dankie HEER! Dit was nie ’n maklike pad nie, maar met U binne my loop ek ’n bende storm!

Hettie

Romeine 8:28
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek