God se Woord in vandag se woorde

Is ek bruikbaar, Here?


Dit was Pinkstertyd. Ons het in die kerk gesit toe ek dié beeld kry.

My lewe was goed en ek was huisvrou, Moeder, boervrou en betrokke by ons kinders se skool en in die gemeenskap. Maar ons as vroumense het mos altyd ‘n tipe minderwaardigheid wat sluimer en die vraag het my altyd gekelder – Here, wat beteken ek? Wat doen ek wat myself laat mens voel of betekenis gee? Wat maak my spesiaal? Ek is daar vir my man, staan hom by, help op die plaas en doen wat hy vra. Vir die kids het ek met als by skool gehelp, rondgery, atletiek en hokkie help afrig, taxi gespeel en wat ook al nodig was. Maar wat het ek vir myself gedoen?

Die aand in die kerk vra ek weer vir die Here: “Wat beteken ek dan?” En ek sien die volgende beeld:

Ek sien twee borde – die een is uitgestal in die “sideboard kas” – jy weet daai “grand” stel se borde wat uitgestal word en net gebruik word met
spesiale geleenthede. En die ander bord – daai ou elke dag se kombuisbord. Die een met al die snymerke en “chips” en wat al soms sy kleur verloor het.

En die Here vra toe vir my watter een verkies ek om te wees?

Die bord wat net uitgestal word en nou en dan gebruik word en net mooi lyk of die bord wat elke dag gebruik word en wat altyd daar is as jy nodig
is en die een is wat gebruik word vir daai warm huislike gevoel. Daai bord wat altyd naby en handig is. Die bord wat soveel stories kan vertel met
elke sny wat daarin is en elke “chip” wat op die bord is. En die bord wat in stilte in die kombuis gebruik word as niemand kyk en naby is nie.

En ek besef ek wil en is daai kombuisbord wat gebruik word al weet jy dit nie. En al besef jy dit nie, jy is in die Here se hand en Hy gebruik jou. Dis
daardie storie van die linkerhand moenie weet wat die regterhand doen nie. Mens het nie nodig om te weet jy het iewers iets beteken of hoor
mense prys jou om te weet jy doen wat die Here van jou verwag of dit wat Hom blymaak nie.

Dankie dat julle my weer herinner het aan die visie en dankie, Heer, dat dit na omtrent 15 jaar nog helder by my bly en my gegrond hou.

Sunette

 Romeine 9:21
Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek