God se Woord in vandag se woorde

Jesus los nooit ons hand nie


‘n Jaar gelede het ek my werk verloor en ek het gedink dat dit God se manier was om vir my te sê “doen nou jou eie ding, jy wou nog altyd”. Ek het weggespring en my eie ding begin doen. Dit het maar broekskeur gegaan en al die ekstra geldjies wat iewers was, was later op.

Einde Julie hierdie jaar was daar R200 in die bank. My huishuur was 3 maande agter en so ook my kar paaiement. Ek het elke oggend Bybelstudie gehou en later vir die Here gesê ek dink nie ek glo meer nie, want niks wil dan regkom nie en dit is nie asof ek agteroor sit en wag dat die besigheid moet inkom nie.

Verlede Woensdagoggend reën dit toe lekker en ek sit en doen nou maar dit wat ek het om te doen (ek het ‘n admin bedryf begin wat klein en mikro besighede help om die noodsaaklike gedoen te kry) en ek sit nie sonder werk nie, maar almal kan nie betaal nie en ek het my voorgeneem om te help al kan iemand nie betaal nie.

Toe lui my telefoon en twee blomme-boere vra of ek hulle wil kom sien. Ek het al drie keer vir hulle gekwoteer en ek het begin dink dit is maar seker nie vir my beskore nie. Ek ry toe na hulle vir ‘n onderhoud. Die kort en lank van die saak is ek moes Maandag by albei die boere begin werk. Hulle wil my nie aanstel as salaristrekker nie, maar ek moet op dieselfde stelsel werk as wat ek vir my ander kliënte werk. Tussen die twee van hulle verkoop ek omtrent 30 ure per week. Al wat anders is, ek moet op die plase wees ek kan nie van die huis af werk nie, maar ek is net daar solank as wat dit vat om elke dag se werk gedoen te kry, dan kan ek maar gaan.

Hulle het nie gekibbel oor my tarief of niks nie. My ma is in die ouetehuis en die eerste ding wat ek gedoen het is om na haar toe te ry en te vra hoe wys ek nou ek is dankbaar, want hierdie twee kontrakte maak nou dat ek genoeg geld sal verdien om al my verpligtinge na te kom en ek het nog genoeg tyd om my ander kliënte ook te help asook die wat nie kan betaal nie.

En dit net toe ek begin dink ek is alleen en die dat die Here my nie gaan help soos wat ek gehelp wil wees nie. Ek het gedink ek het seker maar net weer vir God verkeerd verstaan, want as daar nou een mens is wat kan misverstaan, is dit ek.

Ek het die Bybel van vooraf begin lees, want ek het nog nooit die Bybel van voor af tot agter deurgelees nie. In Eksodus 33 staan geskrywe dat God vir Moses gevra het of Hy self saam met hulle moet gaan en toe het Moses geantwoord dat as God nie self saamgaan nie moet Hy hulle nie eers laat wegtrek nie. En dit weerklink nou in my ook. God het gedink ek is goed genoeg vir die twee kontrakte, maar sonder Hom kan ek dit ook nie doen nie. Nou bid ek dat ek ook nie Jesus se hand sal los nie, want Hy het nie myne gelos nie en dit terwyl ek gedink het Hy het.

Annatjie

Psalm 55:23

Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.

 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek