God se Woord in vandag se woorde

God skryf niemand af nie


Ek is as ‘n Christen grootgemaak in ons ouerhuis. Ongelukkig het ek in my 20’s verkeerde vriende gemaak. Ek’t dinge saam met hulle gedoen wat nie in ‘n Christen se lewe hoort nie. Ek’t op 22 ‘n kêrel gekry wat my gemanipuleer, seergemaak en verkleineer het. Ek’t swanger geraak en aanvaar dat dit seker maar my lot is om in ‘n “abusive-relationship” te wees, maar God het anders besluit. Ek het later alle kontak verbreek en hy’t dit aanvaar omdat die baba volgens hom “nie syne was nie.” Ek was gesëen met die mooiste babaseuntjie! Toe hy 8 maande oud was, het ek ‘n wonderlike werk gekry en vriende geraak met ‘n baie gawe ou. Ons vriendskap het gegroei en hy’t my seuntjie sien grootword en na 5 jaar het ons verloof geraak! Die ou het ‘n graad gehad en ek’t begin opkyk na hom. Ek het deeltyds begin leer en my vakke met onderskeidings geslaag! Ek’t ‘n doel in die lewe gevind – ek wou beter wees vir my seuntjie!

Eendag tydens gebed het God ‘n visioen aan my gegee – dit was die eerste keer in my lewe wat die Heilige Gees my so gelei het in gebed! Tydens die visioen het ek vir my en die ou voor die kansel sien staan. Aan my linkerkant het my pa gesit en hy’t groot geglimlag. Hy was helder met die mooiste wit roos op sy bors. ‘n Paar maande later is my pa met longkanker gediagnoseer. Ek was teen die vloer gedruk!

Intussen het ek van die visioen vergeet tot my sussie my herhinner aan hoe glansryk my pa was. Dit sou beteken dat my pa sou sterf… Na ‘n harde stryd het Jesus hom kom haal. Augustus 2016 het ons verloof geraak en November 2016 is my pappa terug na God. Ons het vroeg in 2017 getrou.

Die ervaring is bitter-sweet, want hoekom moes ek sien en weet my pa gaan sterf? Die vraag het lank by my gespook, maar ek vind vrede dat by God goed en sleg gebeur, maar Hy gee jou krag daarvoor. Al lewe ek baie naby aan God beteken dit nie dat die duiwel wegbly nie. Onlangs het die duiwel weer aan ons deur kom klop en al wat ek kon doen, was BID! Hierdie situasie wat ons moes deurmaak was angswekkend en ek’t geen uitkoms gesien, maar Bybelstudie is jou beste wapen! Na ‘n baie lang week van wonder oor wat ons moet doen, het God uitkoms gebring!

God is hier, Hy wil so graag so naby aan ons leef… as ons Hom net kan aanvaar, as ons net tyd maak om te luister. Ons moet besef dat God met ons almal praat, maar op verskillende maniere! Daarom moet jy stil raak, reflekteer en probeer luister vir Sy leiding, maar ek dink in vandag se tyd soek ons ‘nou’ ‘n antwoord, ‘n uitweg, ek meen “ons het nie tyd vir wag nie!”, maar as elkeen net stil gaan raak sal hulle die grootste vreugde ervaar wat ek MY GOD noem.

God kan met ‘n onbelangrike persoon asook iemand wat swanger geraak het voordat sy getroud was, steeds tot vandag toe werk. Ek weet nou Hy sal my nooit los nie, want Sy liefde is té groot!

Skuilnaam: Karien

Skrifgedeelte: Hosea 11:8

8“Ek kan jou nie sommerso laat weggaan nie, Efraim. Ek kry dit nie oor my hart om jou sommer vir jou vyand te gee nie, Israel. Ek kan nie met jou maak soos Ek met Adma gemaak het nie. Ek kan nie met jou laat gebeur wat Ek met Sebojim laat gebeur het nie. Ek baklei met Myself om te besluit wat Ek met jou moet maak. Ek gee te veel om vir jou.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek