Hoërgraad vergifnis
Drie jaar gelede het mense my pad gekruis. Met genade van bo kon ek hulle lei om ’n keuse vir Jesus te maak. ’n Noue liefdesband het tussen ons ontwikkel. Hulle het soos my eie kinders geraak. Op onverklaarbare wyse het die vrou teen my gedraai. Ek het die laakbaarste SMS’e van haar gekry. Sy het boonop laat weet van al die leuens wat sy en ’n ander vrou oor my by my leraar kwyt geraak het.
Hulle wou my bediening vernietig. Ek het lank daarmee geworstel. Die verraad het diepe letsels gelaat, maar met krag van Bo kon ek hulle uiteindelik vryspreek en vergewe. Ek het net vir hulle gebid.
Verlede jaar het albei die vrouens afsonderlik vergifnis kom vra. Toe raak die een vrou se man baie ernstig siek. Sy lewe het aan ‘n draadjie gehang. Dokters het haar op die ergste voorberei.
Een aand klop iemand aan die deur. Dis toe die man se vrou. Sy val in my arms en huil haar angs en nood op my skouers uit. Op die stadium het hulle nie meer kerk toe gegaan nie, dus geen pastoor of leraar om hulle by te staan nie. Die afgelope 3 maande het ek hulle weer bygestaan en geestelik ondersteun. Haar man het nou weer begin werk.
Toe sy destyds haar met my kom versoen het, is ek gevra hoekom ek haar na alles wat sy my aangedoen het, vergewe het. Dit was die Heilige Gees wat my gelei het om die regte stap te neem. Vandag sien ek God se hand daarin.
Tersia
Skrifgedeelte: 1 Tessalonisense 5:15
15Sê vir ander gelowiges om nie wraak te neem nie. As iemand iets leliks aan hulle gedoen het, mag hulle nie iets leliks terugdoen nie. Sorg eerder dat julle van vroeg tot laat goeie dinge aan mekaar en aan ander mense buite die kerk doen.