God se Woord in vandag se woorde

Die Here se genade


Sommige mense loop opdraande paaie om uiteindelik op die kruin te kan staan en te getuig: Ek het dit nie uit my eie krag reggekry nie. Ek het ‘n Helper gehad. Pieter getuig van sy Helper:

“Ek het in 2010 bevordering gekry en is verplaas na ‘n ander area. Die mense was anders as waaraan ek gewoond was, maar ek het die uitdaging aanvaar en my beste gegee. Teenspoed het my ongelukkig keer op keer ingehaal, maak nie saak hoe hard ek probeer het nie. My lewe is op drie geleenthede bedreig en dit het so ernstig geraak dat ek tuis moes bly totdat nog ‘n ondersoek afgehandel word. Ek was ten gronde en het oral om hulp gevra – sielkundiges, ‘n psigiater, maar my toekoms was steeds duister.

Deurentyd het ek gebid en gevra om leiding en hulp, maar die Here se tyd is nie ons tyd nie. Maart 2011 het ek ‘n teken van die Here ontvang om terug te gaan werk toe, al was alles teen my. Dit was baie moeilik, maar ek het my oë gevestig gehou op die Here, geglo en vertrou so goed ek kon.

Dit het ook tyd geneem en soms het ek moed verloor, maar na 5 jaar het die Here die mense wat my wou doodmaak en ander wat alles in hulle vermoë wou doen sodat ek moes werkloos wees, gelooflik gedraai en vandag is van hierdie mense my vriende. Die Here het vele mense na my gestuur in hierdie 5 jaar wat ek glad nie geken het nie, maar hulle het my ondersteun in my situasie en ons het saam gebid in my kantoor, nie net vir my nie maar ook vir ander se pyn.

Die kort en lank van die storie word opgesom in Matteus 19:26 “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.” Sonder die Here is ek niks, maar met die Here is die onmoontlike moontlik. Die Here het my die vrede gegee wat alle verstand te bowe gaan. Alle eer aan Ons Hemelse Vader vir sy genade.”

Pieter

Skrifgedeelte:    Matteus 19:26

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek