God se Woord in vandag se woorde

Vergifnis 101


Ek en my man was amper 30 jaar getroud toe my dogter agterkom dat my man trouplanne met ’n ander vrou maak. Dit terwyl ons nog getroud is! Kort hierna het ek uitgevind dat die kanker in my bors versprei het en dat ek 8 gewasse op my rugstring het. Waar ek graad 1 kanker gehad het, het ek ewe skielik graad 4 kanker. Die ergste was dat ek alles moes deurgaan sonder enige ondersteuning van my man.

Daar was baie harde woorde tussen my en my man. Hy het ons oudste dogter afgeskryf en sy het hom ook afgeskryf. Ek was nog steeds woedend vir my man en om hom te vergewe, was nie ‘n opsie nie.

Ons besigheid was op my naam en ek het seker gemaak dat hy geen tekenreg het nie. Kortliks gestel, hy was bankrot, geen besigheid of geld nie. Ek het die besigheid met al die geld gevat. Ek wou hom ‘n les leer en seermaak soos hy my seergemaak het!

Vir 2 weke het ek so aangegaan totdat God my tot stilstand gebring het en my gevra het of ek nou gelukkig is. Het ek nou bereik wat ek wou bereik het? Ek het teruggedink en die seer was nog steeds daar. Ek het geweet God wil hê ek moet ’n ander pad stap.

Ek het hom gekontak en om verskoning gevra vir wat ek gedoen het. Hy het my nog glad nie om verskoning gevra vir wat hy aan ons gesin gedoen het nie. Ek het hom in trane meegedeel dat ek hom vergewe vir wat hy aan ons gedoen het. Ek het ons besigheid met al die geld vir hom teruggegee.

My 2 dogters, veral my oudste, kon nie verstaan hoe kon ek hom vergewe nie. Ek het hulle vertel van my gesprek met God en ook dat God vir my gesê het dat Hy al my sondes vergewe het, hoe kan ek nie dieselfde met my man/hulle pa doen nie.

Ek het hom onvoorwaardelik vergewe. Prys die Here, ek en my man is nou die beste vriende ooit. My 2 dogters se verhouding met hulle pa is beter en sterker as wat dit ooit was.

Ek is nou al 3 jaar enkellopend, steeds Gr 4-kanker, maar ek is gelukkig, want ek het ‘n ongelooflike paadjie met my God gestap. Baie dae kon ek nie meer nie, dan het Hy my gedra. Ek het die afgelope tyd geleer jy is tot alles in staat as jy God by jou het.

Elaine

Skrifgedeelte: 1 Tessalonisense 5:15 

15Sê vir ander gelowiges om nie wraak te neem nie. As iemand iets leliks aan hulle gedoen het, mag hulle nie iets leliks terugdoen nie. Sorg eerder dat julle van vroeg tot laat goeie dinge aan mekaar en aan ander mense buite die kerk doen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek