God se Woord in vandag se woorde

Moenie net 1 skoen gee nie!


“Ons maak die plastiese swart sak vol verwagtinge oop! “n Helderkleurige sonhempie, ‘n swart rompie! ‘n Paar somersandaaltjies! Hoe geseënd is ons nie! Hoe goed is die Here vir ons!

Oom Richard bring elke dan en wan vir ons ‘n swart plastiese sak met klere en skoene wat deur die gemeentelede van die kerk ingesamel word om vir dié te gee wat minder as ander het.  Dan kan ons kies en keur!

Daar is kleertjies vir Seun, daar is kleertjies vir Sussie en ook dikwels ietsie vir Ma. Toe die Ma die swart ballet skoentjie sien, gaan haar gedagtes terug na ‘n Saterdagoggend in Johannesburg. Sy maak reg vir ‘n Saterdagoggend in haar fotografie potretstudio in ‘n bekende sentrum in ‘n gegoede woonbuurt.

Sy weet dat sy op die halfuur, gelukkige gesinne se familiepotrette gaan neem. Almal opgetof in die nuutste modes. Die paartjies se verlowingsfotos met die mooiste en duurste diamant verlowingsringe met oë wat vonkel, vol afwagting vir die toekoms wat vir hulle voorlê.

Daardie middag 1uur sal sy haar kameratas pak, want dan moet sy troufotos gaan neem.  Eers na die stralende bruidjie se huis, waar die senuweeagtige moeder van die bruid, die ‘weil’ op haar dogter se kop vassit en dan kerk toe waar die bruid se pa die pragtige, stralende bruid die kerk in vergesel en haar aan die ewe stralende bruidegom oorhandig.

… so kom sy weer terug by waar sy laas was…. by die ballet skoentjie.  Ja sulke skoentjies het sy gedra toe sy ander mense se gelukkige oomblikke vasgevang het. Skoentjies wat elegant was, maar ook prakties.

In daardie skoentjies kon sy mense se gelukkige oomblikke in die studio vasvang, in daardie skoentjies kon sy kindertjies met haar helder verestoffer laat lag deur hulle toontjies te kielie en met daardie skoentjies kon sy agter die bruidjies en laggende bruidmeisietjies aanhardloop om hulle mooiste en spesiaalste oomblikke vas te vang!

Terug in Simonstad… Die wind is besig om op te steek… Netnou sal sy die materiaaldoeke moet gaan ophang wat sy in die bad met haar voete uitgewas het… teen die styl bulte sal sy moet opgaan na die wasgoed lyne… Die wind is besig om om die hoeke van die woonstel blok te huil…

Maar wag! Ek het nog iets om na uit te sien! Die swart ballet skoentjie, die een soos in die goeie ou dae!  Ek moet net gou sy maatjie in die sak kry, dan gaan dit amper soos in die goeie ou dae in Johannesburg wees…

Ek gooi die sak uit, ek soek ‘n paar keer deur alles… Maar daar is net een swart ballet skoentjie… Hulle het net een skoentjie ingepak. Hulle het die ander enetjie vergeet…

Nou – jare later, wanneer ek swartsakke vul met ekstra goedjies in die huis, maak ek seker dat daar altyd 2 skoentjies is en nie net een nie…

Want ek was ook al aan die ‘ontvangerskant’.

Val

Matteus 25:45

45Hy sê: ‘Luister nou mooi. As julle een van my vriende, al lyk hy vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp. Ek herhaal, wie my vriende help, help My.’

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek