God se Woord in vandag se woorde

Te gejaagd?


Ek en my man was in ’n baie groot ongeluk met 3 karre. My kar is afgeskryf. My borsbeen is gekraak en ek het ’n ligte harsingskudding opgedoen. My man se knieë is beseer en hy het ligte harsingskudding opgedoen. Verder is ons nog heel.

Ek was my hele lewe lank al ’n klein Shumacher. Ek is ’n baie goeie, vinnige en sekuur bestuurder en die Here was goed vir my met geen ongelukke nie.

Ek ry toe nou die dag vinnig agteruit … in ’n paal vas. R34 000 se skade aan my man se kar. Dit laat my toe dink … daar loop baie mense op die sypaadjie … as ek iemand doodgery het, was ek beslis tronk toe. Ek sê vir die Here dankie vir die waarskuwing. Ek gaan nou stadiger ry.

Ek ry toe in my kar (Toyota Corolla 1.3- my Ferrari) en ek ry stadig.

Ek stop agter ’n ander kar by die robot. Toe kom daar ’n ander kar met ’n spoed wat skrik vir niks. Hy stamp my vas teen die kar voor my al was daar ’n groot spasie tussen ons.

Ek vra toe vir die Here: “Hoekom nou, Here? Wat wil U nou vir my sê? My kar was my hart se punt, my groot liefde! My kar wat amper 400 000 km op sy klok het. My kar wat hierdie jaar 19 sou word. My kar wat my nooit probleme gegee het nie!

Ek kry nie ’n antwoord nie. Ek lê snags en rol rond in my bed en vra “Hoekom, Here? Sê vir my, asseblief!” En Hy antwoord: “Jou eie lewe is net so gejaagd. Raak stil, raak kalm en gee My van jou tyd. Gee My daardie liefde wat jy vir jou kar gegee het …

Is dit nie wonderlik hoe die Here alledaagse gebeure kan gebruik om met ons te praat nie!

Annette

Johannes 10:27
My skape luister na My stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek