God se Woord in vandag se woorde

Vry van postnatale depressie


My depressie het 18 jaar gelede begin met die geboorte van my eerste kind. Ek het baby blues gehad, maar was salig onbewus wat dit is. Die paniekaanvalle, die onsekerheid oor die toekoms, die afbreking van my selfbeeld (deur myself), al die gedagtes (almal negatief natuurlik) het my van my kop af gehad, maar jy is mos grootgemaak dat jy nie mag wys jy val uitmekaar nie, so jy hou maar die vroom gesiggie van “alles gaan goed” voor.

Twee jaar later is my dogter gebore, toe tel een van die verpleegsters onmiddellik op dat ek baby blues het, want ek wou om die dood nie my man laat huis toe gaan nie. Trane van vanoggend tot vanaand. Daar het die medikasies begin. Eers net om oor die baby blues toe kom, toe om die paniekaanvalle (wat ek gedink het engtevrees is) te stop. Die een pil laat jou goed voel en sleg voel tegelykertyd. Ek kan die hel van depressie in duisende woorde aan jou beskryf, maar die uiteinde was dat ek in ‘n hospitaal in Kaapstad opgeneem is Februarie 2015. Daar het ek Lithium begin ontvang wat my totaal van my kop af gemaak het. Selfmoord en allerhande dinge het te voorskyn gekom. En ek het besef ek sal drasties iets moet doen, anders is dit verby met my. Die tipe depressie waaraan ek gelei het, word ook Postnatale depressie genoem.

My tannie het my die naam van ‘n bevryder in ons kerk gegee. Ek het hom gekontak en gaan sien. Hy het vir my gebid en ‘n hele paar demone uitgedryf. My oë oopgemaak vir wat dit is om werklik ‘n Christen te wees en ‘n verhouding met die Here te hê. Hy het gesê van die volgende dag af sal ek geen medikasie meer gebruik nie. Ek sal geen newe-effekte hê nie. Die Here sal my gedagtes verander. En hoe wonderlik om te sê: Vanaf die volgende dag het ek tot en met vandag nog nooit weer medikasie gebruik nie, nog nooit weer enige depressie ondervind nie.

Ek sal boeke kan skryf oor wat die Here alles in my lewe verander het en hoe my verhouding nou met Jesus is. Ek glo die ENIGSTE oplossing vir depressie is JESUS CHRISTUS in sy groot almagtigheid.

Depressie is daar, siekte is daar, hartseer is daar, maar Jesus is die enigste genesing. Geen medikasie kan doen wat Jesus vir my gedoen het nie. Loof die Here en prys Sy naam.

Marietha

Skrifgedeelte: Psalm 103:3

3Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees.

 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek