Stout soos altyd
Na veertig jaar stap ek weer by my laerskool in Somerset-Wes in. My dogter neem deel aan ’n aand-atletiekbyeenkoms. Een van my ou onderwysers, mnr. Le Roux is wraggies nog steeds daar en is die afsitter vir die aand. Ek stap na hom toe en stel myself voor. Wel, met so ’n unieke naam soos myne onthou die meneer my dadelik. Sy eerste woorde aan my? “Is jy nog altyd so stout soos altyd?” Dit was nogal vir my ’n snaakse opmerking van die meneer. Is dit dan al wat hy van my kan onthou?
Ek stap na die kafeteria en daar staan my Afrikaanse juffrou, juffrou De Klerk. Sy lyk nog soos altyd. Ek stel myself weer voor aan haar. Haar eerste woorde: “Is jy nog altyd so stout, Gerjo Ben?”
Ek wou effe geaffronteerd voel oor die twee identiese opmerkings oor my laerskool dae, toe besef ek dat ek self verantwoordelik was vir hulle opmerkings. Dis ek self wat die prentjie by hulle gelos het.
Ek weet ook waarvandaan dit kom. Ek was die laaste van ses en ek moes maar spook om aandag te kry. En my taktiek het my dikwels in die sop laat beland. Daarom die bordjie om my nek van die een wat gereeld kattekwaad aangevang het.
As ek maar net geglo het dat ek eintlik fine was en dat ek nie stoute dinge hoef aan te vang om aandag te kry nie, want in God het ek al die waarde. Ja, dalk was ek te jonk om dit te verstaan.
As ek net toe al geweet het wat ek vandag weet: 4Christus gee julle daardie nuwe lewe. Wanneer Christus eendag weer kom, sal julle almal by Hom kan gaan staan as mense wat Hy lewend gemaak het. Almal sal julle saam met Hom sien. Dan sal hulle ook sien hoe belangrik julle regtig vir God is.
Ek en jy het soveel waarde! Ons hoef niks ekstra te doen om aandag te trek nie. God sien ons klaar raak. Hy ag ons hoog. Elkeen van ons is die appel van Sy oog. Wanneer ons by God instap, maak niks anders meer sin nie. God het net vir ons in die vissier en die res kan eers wag.
Hoe is dit moontlik? Ek maak darem net te veel droog vir God om eers na my kant toe te kyk. Dis Jesus wat dit moontlik gemaak het. Hy gee aan ons nuwe waarde en daarom kyk God met sagte oë na ons. Waar God nie eens na ons kon kyk nie, het Jesus se opoffering hier op aarde die verhouding tussen ons en God verander.
Die dag as Jesus weer terugkom aarde toe, gaan ons dit ook beleef. Soos wat die geliefdes en aanhangers van suksesvolle sportmanne en -vroue met vlaggies by die lughawe wag en liedjies sing met hulle aankoms, gaan ons ook daar wees as Jesus terugkom.
Jesus gaan so opgewonde wees en ons elkeen soos ou vriende druk. Hoekom, want Hy ken ons en ons ken Hom. Hy het dit alles vir ons moontlik gemaak. En so sal ons glimlaggend hand om die lyf met ons Redder staan en almal sal dit sien. Hulle sal sien hoé belangrik ons regtig vir God is.
Op ons eie hoef ons nie dinge te doen om aandag te trek of om belangrik te wees nie. Jesus het reeds ons waarde herstel. Dankie tog, want die bordjie van die “stout een” wil ek nou maar afhaal.
Teks
Om oor na te dink
Waar lê jou identiteit?
Ken jy vir Jesus?
Wat beteken dit vir jou dat God jou na soveel waarde ag?
Gebed
Vader, dankie dat U na my kyk met sagte oë. Ek moet erken dat dit nogal moeilik is om my eie waarde raak te sien. Dankie dat my dade niks daarmee te doen het nie. Jesus se bloed het my vrygespreek sodat ek opnuut kosbaar en waardevol in U oë kan wees. Amen.