God se Woord in vandag se woorde

Straf vir die wat dit verdien


Ek help ’n vriend van my. Ek dink nie hy weet altyd wat ek alles vir hom doen nie, want hy sit vêr hiervandaan. Dit vat omtrent ’n hele dag uit my besige week. Dis fisiese werk, maar ek geniet dit.

Ek geniet dit om ’n slaggie weer iets met my hande te doen. Ek geniet dit om ’n slaggie iets anders te doen. Ek geniet dit om ’n bietjie in die stad te ry en sommer by ’n groot winkel te stop en kyk wat op die rakke is.

Terwyl ek plek maak in die motorhuis om al sy goed vir hom te stoor, sê Renata daar uit haar kantoor dat my vriende my gebruik. Ek stry met haar en sê dat hulle my nooit sal misbruik nie.

Dit sit my kop so-effe aan die dink. Ek wonder hoe sal dit voel as jou vriende jou misbruik. Ek weet my vriende sal dit nie doen nie, maar sê nou maar net. Dit sal darem nie lekker wees nie as jy uit liefde vir jou vriende goed doen en eintlik misbruik hulle jou net.

Ek wonder of ek sal aanhou om vir hulle iets te doen? Ek wonder of ek in ’n stadium ’n streep sal trek en sê tot hier toe en nie verder nie? Dit sal nie maklik wees om net aan te gaan en aan te gaan nie.

God trek ’n streep in die sand as mense Jesus misbruik. As mense hul rug op Jesus draai en Hom beledig, is daar nie salf te smeer nie. God laat nie met Hom of Jesus mors nie. En die woorde moet ons duidelik en mooi hoor. God is nie ’n God wat die heeltyd die pale verskuif om vir die wat van die pad is, ruimte te maak nie. Êrens is dit genoeg en dan kom daar vuur:

28Met die wet van Moses was dit al so dat iemand sonder genade doodgemaak is as twee of drie persone saam gesê het dat hulle die persoon iets verkeerds sien doen het. 29Wat dink jy sal dan iemand tref as hy sy neus optrek vir die Seun van God? Daarvan kan ons seker wees: hy verdien dit om so swaar gestraf te word. Hy het nie net die Seun van God beledig nie, maar ook gemaak asof die bloed waarmee Jesus die nuwe ooreenkoms gesluit het, onbelangrik is. So het hy die Gees in die gesig gevat wat vir hom so ’n groot geskenk gratis wou gee.

Dis voorwaar nie ligte musiek nie en ek is bitter bly dat ek nie onder die kam geskeer word nie. Maar tog moet ek nie so vinnig hier lees nie, want val ek nie ook maar soms in die gat met ’n leefstyl wat veroorsaak dat Jesus se bloed onbelangrik was nie?

Ons almal moet sekermaak dat ons altyd binne die voorskrifte van God se Woord leef. Ons moet onthou dat God ’n regverdige God is. Ja, Hy loop oor van liefde en skenk ons hope genade, maar God sal nie toelaat dat ons met Hom of Jesus mors nie.

Mag ek en jy nooit ervaar wat dit beteken as God begin straf uitdeel nie. Laat ons erns maak om te leef soos dankbare kinders van God. Dankbaar dat Jesus se bloed gevloei het ter betaling van ons hoop sondes.

Mag ons nooit Jesus se bloed en genade misbruik nie.

Teks
Hebreërs 10:26-30

Om oor na te dink
Leef jy binne God se riglyne?
Waar loop jy dalk nie reg nie?
Wie moet jy help om nie onder God se straf deur te loop nie?

Gebed
Vader, soms sidder ek net om te dink hoe erg U straf kan wees vir die mense wat nie na U wil leef nie. Help my om nie in die gat te trap nie. Help my om vir ander te help om aan die regte kant van die grens te leef. In Jesus se Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek