God se Woord in vandag se woorde

Stry en baklei


My vrou is die hele week weg om in stilte haar boek klaar te maak. Ons is bly om mekaar te sien en toe ons agterkom die kinders is elkeen in hul eie rigting, besluit ons om ietsie rustig in die dorp te gaan eet.

Na ete stap ons in Kerkstraat af om ’n lekker bol roomys te gaan koop. En toe skielik, net voor een van die restaurante wat tafels op die sypaadjies het, besluit sy terstond dat sy aan die ander kant van die straat wil stap.

Verbaas staan ek gevries en verstaan glad nie die nuwe rigting in haar lewe nie. Ek maak ’n onnodige opmerking: “Nou wat raas jou kop dan so?” Sy sê: ”Nee, ek wil nie daar verbyloop nie. Dit voel of ek op ’n loopplank loop!”.

Met ’n hoop vraagtekens wat om my hang, stap ek nou aan die ander kant, tussen haar en die mense, en trek haar voort.

Oënskynlik nie die regte optrede nie, as ek so na die dikte van die lippies kyk.

Toe ons later by die volgende straat indraai, gaan staan ek doodstil. Jy sien, albei kante, regoor mekaar sit die mense dik op die sypaadjies. Ek vra met verkeerde glimlag op my gesig: “Nou waar sal ons nou stap? Saam met die karre in die middel van die pad?”.

Die lekker romantiese aandjie in sy peetjie in.

Ek sit lank en wonder hoekom dit gebeur. Nie een van ons twee het êrens beplan om die aand op te foeter nie. Nêrens het iemand gaan sit en uitwerk oor die kwota van die stry en baklei wat nog nie die maand opgebruik is nie. Inteendeel, nie een ervaar so ’n stofwolk positief nie.

Êrens in die gebrom na die tyd het my vrou iets gesê van ek wat nie haar behoefte raaksien nie. Ek wou dit nie toe erken nie. Ek het gedink sy is eintlik net simpel en klaar. Maar tog steek daar ’n groot stuk waarheid in.

Die meeste van mense se bakleiery gaan daaroor dat ons nie ruimte het vir mekaar nie. Ons kan nie die ander een se behoeftes raaksien nie. Eintlik gaan dit net oor die self en wat ek wil hê en nie wil hê nie.

En nou raak die probleem net nog groter. Dit gaan nou nie meer net oor my wat nie saam met haar aan die ander kant wil stap nie. Dit gaan nou oor ek wat nie haar behoeftes raaksien nie, nie vir haar wil opoffer nie, net aan myself dink en nog vele meer.

En dit alles kon vermy gewees het. Die antwoord is eintlik so eenvoudig. Stap net oor die pad! So maklik en geen stofwolke wat in donderwolke verander nie.

En dis die antwoord vir die meeste struwelinge: stap net oor die pad. Stap na die ander een se wêreld en los jou eie een, want eintlik gaan dit nie oor die stap nie, maar om die ander een se behoeftes raak te sien. Gee ’n stuk van jou eie wêreld op en stap oor na die ander persoon se wêreld.

Dan sal stry en baklei minder wees. Dan sal die wêreld lekkerder wees. Dan sal die wêreld vir Jesus raaksien en saam wil stap – oor die pad.

6… Hy (en natuurlik sy ook) moenie net regstaan om te stry en baklei nie.

Teks
Tit 1:6-10

Om oor na te dink
Waar haak jy met ander?
Stap jy soms oor?
Hoe kan jy anders?

Gebed
Vader, help my om minder met ander vas te haak. Help my om hulle behoeftes te hoor en raak te sien. Help my om oor te stap na hulle toe. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek