God se Woord in vandag se woorde

Sweet-sweet ’n les in


Net nadat ek die vorige stuk geskryf het, gaan ek vir my daaglikse sweetsessie gym toe. Die ge-oefenery kom mos nie natuurlik nie en dit kos elke keer woeste aanmoediging om my net daar te kry. Maar dit is net die eerste helfte van die motivering, want as ek daar instap kos dit hard praat om nie net my kaart in te druk en dan weer net daar om te draai en sonder enige skuldgevoel by die deur uit te stap nie.

Iets het my egter bevlieg, want ek doen ’n workout wat die grond onder die stapmasjien sopnat maak. En sonder om te dink, skuif ek oor na ’n trapfiets en presies dieselfde gebeur daar. Dit was seker die skuldgevoel oor die vorige aand se instoppery wat my gejaag het om so hard te oefen. Of miskien die prentjie van daai dik ou in die spieël toe ek met ’n groot skok besef het: Dis ek! Toe ek afklim, sak ek amper net daar inmekaar, want my bene is die ene jellie.

Op pad kleedkamers toe glip ek by die stoomkamer in, want daar kan ek rustig rus totdat ek die laaste entjie na die storte aandurf. Ek geniet nogal die sweet, want dis asof ek maerder word, sonder om te oefen, maar nie te lank nie, want dan voel dit vir my of alles hier binne my begin kook.

Hier sit ’n ou langs my en hy’s lus vir praat. Eintlik is dit lekker, want dan gaan die tyd gou verby – net solank dit nie té ’n lang storie is nie. Ek is ordentlik grootgemaak en stap nie halfpad uit iemand se storie nie.

En so begin hy my ’n kort oorsig gee van sy lewe en ek besef dat ek hier langer sal moet sit, want dalk wil die Here hê ek moet my sweetmaatjie help met iets. Maar hoe langer hy praat, hoe meer voel ek my kookpunt kom nader.

“Sit!” hoor ek my ma se denkbeeldige stem en ek kry weer die les oor maniere. My oë brand nou woes en ek dink nie daar is meer ’n sweetgaatjie waar daar nie water uitstroom nie. Die liedjie “Storme van seën van bowe” maal deur my kop. My sweetmaat se storie is nog vêr van klaar af.

Ek wonder hoe wil die Here hê moet ek die maat van my help. Ek wonder ook waar ek die krag gaan kry om te praat, want die stoomkamer is warm en dit voel asof al die vog uit my lyf gesweet is.

Groot was my verbasing toe hy opstaan, sy handdoekie om hom vou en sê: “Tom Watson (die gholfspeler) het altyd gesê dat hy die lewe so probeer leef dat hy nooit sy pa teleurstel nie. Ek weet nie watter pa hy bedoel het nie, maar dit kan mos ons hemelse Pa ook wees.” En daar is hy uit by die deur.

Ek het myself bymekaargemaak en nie eens netjies probeer lyk toe ek verby die swembad stap waar die tannies besig was met hulle daaglikse roetine nie. In die koue stort het ek vir die eerste 5 minute net water gedrink – of so het dit gevoel. In die proses om my liggaam se temperatuur terug te kry na normaal, kom die vorige skryfstuk se teks weer by my op: 9Vandat ons al hierdie dinge oor julle gehoor het, bid ons aanmekaar vir julle. Ons vra dat God vir julle al die kennis sal gee wat julle nodig het om reg te leef.

En dit is so helder soos daglig: By elke besluit wat ek moet neem, sal ek vir myself afvra: Gaan my keuse my hemelse Pa trots maak of gaan Hy teleurgesteld wees?

Hier sit ek in die stoomkamer, besig om my dood te sweet. Ek dog dis om vir iemand te help, maar op die ou end is dit eintlik hy wat vir my die waarheid oopbreek. Hy’t my gehelp om op ’n eenvoudige manier elke keer met groot wysheid op te tree. Hy’t my gehelp om dit vir die Heilige Gees maklik te maak om my hand te vat sodat ek kan doen wat reg is.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:9-11

Om oor na te dink

Sukkel jy ook soms om te weet wat reg is?

Wat sal jou pa dink van jou besluite?

Wat sal jou hemelse Pa dink van jou besluite?

Gebed

Vader, dankie vir die tool wat U my gee om te help met al my besluite. Ek weet ek het al ’n paar skewe besluite geneem. Ek sleep nog hier en daar swaar daaraan. Help my om die beeld te onthou en seker te maak dat my besluite U trots sal maak. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek