Te besig vir Jesus
Paulus is bekommerd oor die jong Christene van Filippi. Iemand moet na hulle toe gaan. Ek sien hoe hy by homself sit en dink: Wie kan ek na Filippi stuur? Briewe gaan nie nou lekker werk nie. Daar moet iemand persoonlik soontoe gaan.
Timoteus spring dadelik in sy gedagtes op. Timoteus se hart was reg. Jesus se verlossingsboodskap was in sy hart gegraveer en daarom was hy die beste kandidaat vir die job. Hoor hierdie mooi getuienis oor Timoteus: 19Ek hoop om Timoteus gou na julle toe te stuur, want dit is wat die Here Jesus wil hê. 20Ek kan aan niemand anders dink wat soveel vir julle omgee as hy nie.
Mag hierdie getuienis ook waar wees van ons elkeen. Mag ons ook ’n hart hê vir mense wat swaarkry. Mag ons ook ’n hart hê vir jong Christene dat ons alles net so sal los en hulle eers gaan help. Wanneer e-posse skryf nie meer as pleister gaan werk nie, wanneer selfs ’n selfoonoproep nie die antwoord is nie, dat ons bereid sal wees om te reis, dae aaneen, omdat ’n aangesig tot aangesig gesprek nou al uitweg is.
Is jy Jesus se Timoteus? Wees eerlik, want sien, die volgende vers het my ietwat voor die bors gestop: 21Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is. Dit het my so aan die hart gegryp, dat ek dit weer gelees het: 21Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is. En weer: 21Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is.
My vrou sê dis altyd crunch-tyd by ons. En as ek so na die afgelope tyd kyk, is sy nie vêr verkeerd nie. As ek net eers dié ding agter die rug kan kry, sal ek meer tyd hê…
En weet jy wat die ergste van alles is? Die meeste van die dinge waarmee ons besig is, is God se dinge. Ek raak soms so besig met die dinge van God dat ek nie tyd het vir die God van die dinge nie…
So maklik word ons aangejaag om nog meer te doen, nie net deur die wêreld nie, maar selfs in die kerk. Ons het so baie dinge in die vuur. Dinge waarvan ons hou. Dinge wat vir ons lekker is om te doen. Dinge wat ons energie gee. Daarmee is niks fout nie. Die vraag is net of daar nog tyd oor is vir die dinge wat vir Jesus belangrik is.
As iemand jou nou sou vra om vir ’n week alles net so te los en vêr te reis om ’n klompie nuwe Christene op die pad te help. Sal jy alles net so los en dit gaan doen? Het jy tyd? Kan jy tyd maak of gaan jy ook soos Paulus sê: 21Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is.
Eina!
Ek en jy moet ’n bietjie hieroor dink. Ons moet God se Gees vra om saam met ons te kom sit en kyk waar ons die pot mis sit en waar ons tyd vir Jesus bymekaar moet maak. Ons moet gereed wees, enige tyd. Ons is deel van God se reaksie-eenheid. Die vraag bly sing in my kop: Maak ek genoeg tyd vir Hom?
Om oor na te dink
Is jy besig?
Té besig?
Het jy tyd om op God se reaksiespan te wees?
Gebed
Here, ek maak foute. Daar is baie tye wat ek nie genoeg tyd vir myself het nie, wat nog te sê om gereed te wees vir U oproep. Help my om al die dinge in perspektief te kry. Help my met balans. Help my om meer tyd vir U te maak. Amen