God se Woord in vandag se woorde

Té veel


                                                                                                                                                  Efesiërs 5:6-18
Sommige sondes is nie sonde voordat jy te veel daarvan gebruik of doen nie. Ek vermoed as die woord “te” voor inskuif, verander dit in sonde. Neem nou maar wyn.

Ek onthou nog die dae toe ek ’n plaasbestuurder op ’n wonderlike wynplaas in die Wynland was. Ons het hard gewerk en ons bes probeer om die wingerd te manipuleer om sekere geure in die wyn na vore te bring. In die kelder het ons gespook om die geure binne te hou en te keer dat die suurstof die karakter van die wyn befoeter. Ek onthou nog die first pump as ons die eerste proeseltjie vat en die geure sit vierkantig in die wyn vasgevang.

Net so mooi die herinneringe is aan goeie wyn met ’n mooi karakter, kan dieselfde wyn met ’n “té” vooraan oorslaan in sonde. Net nog een glasie van die lekkerte en jy verloor beheer. 18Moenie te veel wyn drink nie, want dan verloor ’n mens beheer oor jouself. Laat jou hele lewe eerder deur die Gees beheer word.

Soms verloor ’n mens meer as net beheer oor jouself, soos met John. Sy storie:

Ek het my huwelik van 16 jaar prysgegee vir ’n ander vrou en ’n verhouding van 18 maande voordat dit uitgeloop het op niks en ’n vreeslike klomp skuld en ongerief en verwerping. Ek was ’n regte hond gewees met geen gevoelens vir ’n ander mens nie, ’n dronkgat en ’n bakleigat. Altyd gesê drank en baklei is my kos, dit is wat my aan die lewe hou. Ek het nooit toilet toe gegaan sonder ’n glas of ’n bier in die hand nie. Ek het nie gaan kuier by vriende of familie wat nie drink nie. Ek het selfs brood gaan koop met drank in die hand!

Gelukkig hou sy storie nie hier op nie:

Ek het myself in ’n rehab ingeboek. Ek is na die 3de naweek toegelaat om uit te gaan en het saam met iemand wat ook naby my bly, gery. Ek het vir die mater gevra om te stop by ’n bottelstoor om net 6 biere vir die pad te koop. Die vriend het gesê dat hy by die garage sal stop. Daar is ook ’n drankwinkel. Ek het my so vererg (vandag weet ek dit is die Heilige Gees se werking gewees) dat ek net daar aan die slaap geraak het en toe ons by my huis stop, moes hy my wakker maak. Ek het nog nooit geslaap as iemand bestuur nie en nog nooit weer daarna nie.

Twee weke daarna, ’n week voor ek klaar gemaak het, het die kinders van die jeugbediening kom besoek aflê (ek het nooit vir die laaste 30 jaar kerk toe gegaan nie, net een maal saam met my gewese vrou en seun kerk toe gegaan). Daar het ’n seun van 16 na my gekom en vir my gesê dat die Here vir hom gesê het om die boekie aan iemand by die rehab te gaan gee. “Geloof in God” is die boekie se naam, ’n regte kinderboekie met groot skrif aan die een kant en ’n prentjie aan die ander kant. Dit was vir my ’n vernedering gewees en ek het vir die seun gevra wat dink hy is ek, ’n kind of ’n baba. So deur die diens is daar vir die mense gebid en die seun het by my kom staan en vir my begin bid.

Ek het onbedaarlik aan die huil gegaan en so gehuil dat die snot oor my mond geloop het. Ek kon dit net nie keer of beheer nie, dit het net gekom. Nou moet jy weet, ek is hierdie MACHO OU, en hier huil ek erger as ’n baba. Ek het daar my hart vir Jesus Christus gegee en is ten volle genees van drankverslawing.

Ek is nou ’n kind van God en het alles gedoen om skoon en rein te lewe.

God kan genees. Ons kan en moet keer om net onder sy beheer te bly.

Om oor na te dink

Is jy ten alle tye onder God se beheer?

Waar stap jy dalk te naby aan die boundaries?

Is daar dalk iemand wat jy moet help?

Gebed

Here, soms is ek nie in beheer nie. Soms kom “té” ook by my ’n draai maak, en ek weet dat dit nie binne U wil is nie. Help my om dit reg te maak. Help my om seker te maak dat ek die volle beheer van my lewe aan U Gees oorgee. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?