God se Woord in vandag se woorde

Terug na God se tekenbord


Ons word die afgelope tyd gekonfronteer met ons eie verantwoordelikheid rondom ons geloof in God. Paulus is vir ons ’n voorbeeld van ’n ware kind van God en ons moet kyk of ons sy voorbeeld volg of nie.

25Met alles wat ek het, werk ek vir die evangelie. God self het my daarvoor aangestel. Is dit ook ’n getuigskrif van jou lewe? Gebruik jy elke krieseltjie energie om in God se Koninkryk ’n verskil te maak?

Ek vermoed dat die meeste van ons nie Paulus se voorbeeld volg nie. Ons is te besig met die lewe daar buite dat ons eenvoudig nie genoeg tyd of energie het om alles in te span en ’n verskil te maak nie.

Tog moet ons nou nie sleg voel en alles los en na die yskas toe hardloop om sop vir die sopkombuis te gaan kook nie. Ons almal word nie soos Paulus geroep om voltyds vir God te werk nie. Ja, sommige van ons word geroep om heeldag God se Woord aan die menigte te verkondig. Dit is vreeslik lekker, maar ook ’n groot verantwoordelikheid.

Die res van ons word geroep om gewone werke te hê. Tog moet ons besef dat God ons elkeen aangestel het om ’n verskil in sy Koninkryk te maak. Daar in die kantoor, op die lande, in die fabriek of by jou huis, het God jou ook aangestel om sy verteenwoordiger te wees.

Die vraag is of jy gehoorsaam is aan die opdrag.

Ek en my broer en suster gaan eet by ’n restaurant. Toe ons klaar is, staan ons op die stoep van die restaurant. Twee polisiemanne kom ingestap, maar stap weer dadelik uit. My broer blaas sy gasket. “Dis hoekom niemand meer respek vir die polisie het nie. Selfs nie eens die boewe nie. Kyk net hoe lyk hulle. Die een se skoene is nie vasgemaak nie en die ander een se pet sit skuins op sy kop.” En dis nie juniors nie. Die twee ouens het elk ’n paar sterre op hulle skouers.

Ek weet dis nie almal wat so ’n swak beeld skep nie, maar ai, dié twee ouens het ’n dik streep deur die beeld van die polisie getrek.

Hoe hard werk jy in die Koninkryk? Hoe lyk die beeld wat jy as Christen uitdra? Dit moenie net ’n opdrag wees wat ons uitvoer nie, nee, ons moet uit dankbaarheid nie anders kán as om vrywillig ’n verskil te maak nie.

As kinders van die Here nie werklik ’n verskil maak orals waar hulle gaan nie, moet elkeen gaan stilsit en seker maak of daar nie iets fout is met hulle verhouding met God nie. As die Heilige Gees volle beheer neem, is daar gevolge vir al die mense. Goeie gevolge!

Dis goed om te hoor dat ons elkeen geroep is om daar waar ons is ’n verskil te maak. Dit is egter nie die doel nie, maar die gevolg van ons verhouding met God.

As God se evangelie nie deur ons grondvat orals waar ons gaan nie, moet ons eers weer teruggaan na God se tekenbord. Maak seker dat jou verhouding met God reg is sodat sy wil en roeping in jou en deur jou kan grondvat.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:24-27

Om oor na te dink

Hoe ernstig neem jy jou roeping op?

Glo jy dat God jou daar geplaas het?

Wat moet jy doen om God meer sigbaar te maak?

Gebed

Ons Vader, ek wil so graag U wil uitleef orals waar ek gaan. Ek besef dat U my geroep het orals waar ek gaan. Ek moet erken dat ek dit nie altyd regkry nie. Tog wil ek U roeping vir my lewe uitleef. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?