Tussen die CV se lyne
My dogter doen aansoek vir ’n beurs. Sjoe, dis ’n dik klomp papiere wat ingevul moet word. Daarmee saam moet ’n CV ingegee word. Sy skarrel om by dosente en ander leiers ’n paar woorde oor haarself geskryf te kry.
Sy sê sy weet nie eens of die dosente haar deur die jaar raakgesien het nie. Ek vertel haar van my studentedae. Ja, die ouens het my raakgesien en presies geweet wie ek is. Die dosente het die ou met die lang hare geken en gewonder waar sal hy tog eendag sy plekkie in die son kry. Hulle het van my geweet, juis omdat klasloop nie ’n gewilde aktiwiteit in my lewe was nie.
En as ek nou en dan ’n draai daar gemaak het, was ek die ou wat altyd laat was. Die klas was al aan die gang, dan hoor hulle hoe trek ek doer bo in die Laan met my motorfiets weg, want die uitlaatstels het niks van die klank van die enjin gedemp nie. Inteendeel.
Hulle het my geken vir my vraestelle wat hulle lekker vinnig kon merk, want daar was nie baie ingeskryf nie. Daar is seker ’n paar ander dinge waarvoor ek onthou sou word, maar kom ons los dit eers net daar.
As ek hulle vandag op straat of in die winkel raakloop en hulle hoor wat ek doen, dink hulle ek jok vir hulle …
Ek het nie eers daaraan gedink om vir hulle vir ’n CV te vra nie.
Ja, ’n mens word onthou vir die goeie of die nie sulke goeie dinge wat jy doen.
Paulus vra aan die begin van sy brief dat Titus hom moet help om die leefstyl wat van leiers in die kerk verwag word, neer te skryf. Ek dink dit geld vir ons gewone Christene ook. Daarom kan ons mooi na elkeen luister en kyk hoe ons ons manier van deur die lewe stap effens kan aanpas om ook eendag vir die regte dinge onthou te word en so met ’n mooi CV in die hand by die hemel in te stap.
Die eerste voorstel is dat ons 6… ganse lewe moet wys dat ons die Here ken. Met ander woorde, as iemand daar voor by die ontvangs inkom en vra hy wil graag ‘n Christen sien, moet jy die eerste persoon wees aan wie hulle dink.
Is dit jou foon wat eerste gaan lui om gou na die ontvangs te kom, want daar is iemand wat jou soek?
Die ou vertaling sê dat ons gedrag onberispelik moet wees. ‘n Ou woord wat ons daar uit die opvoedingsjare kan gaan haal. As jy iets verkeerd gedoen het, dan het jou ouers of onderwysers jou berispe, met jou geraas. Jy het verkeerd gedoen en nou moet jy weer terug op die brug gehelp word.
Dit klink so ’n bietjie kwaai en asof ons dit nie maak nie. Tog weet Paulus dat dit eintlik net Jesus was wat 100% onberispelik gelewe het. Ons almal se wieletjies klim maar so nou en dan van die spore af. Tog moet ons probeer om die lewe reg te leef.
Ons moet probeer om só te lewe dat daar eendag tussen die lyne van ons CV gelees kan word dat ons ons bes probeer het om Jesus se voetspore te volg. Dat mense ons mooi hart tussen die foute en skeeftrek sou kon raaksien en ervaar.
Teks
Tit 1:6-10
Om oor na te dink
Hoe lyk jou CV so ver?
Moet jy êrens ’n paar aanpassings maak?
Watter van jou aksies veroorsaak die meeste pyn vir ander en sukkel jy die meeste om te verander?
Gebed
Vader, ek weet dat daar ’n paar dinge in my lewe is waar ek ’n paar aanpassings sal moet maak. ’n Paar grotes. Tog wil ek, want ek wil so graag lewe soos U wil hê. Ek wil so graag vir ander in nood help en voor stap. So help my God. Amen.