God se Woord in vandag se woorde

Twyfel nie meer nie


Ek sit om die tafel en gesels met een van die akteurs van Binnelanders. Hy het ’n tydjie terug tot bekering gekom. Sy eerste vraag aan my is of dit verkeerd is om te twyfel.

Ek sien myself so in sy skoene, want al is ek lankal ’n kind van God, kom daar tog nou en dan ’n vlietende gedagte verbygevlieg: Sê nou maar net God bestaan nie.

Sê nou maar net ek is besig om my naam met ’n plank te slaan deur Hom wyd en suid te verkondig. Soms wonder ek of daai Facebook ouens wat uit die kerk geklim het en glad nie meer glo nie, dalk ’n punt beet het.

Sê nou maar net …

Ek vermoed dis normaal om soms by ’n kruispad te wonder oor God se bestaan. Dis menslik, want sien, ons is maar net mense. Ons gedagtes is soms te kort om by God uit te kom. Ons gedagtes en denke word deur die wêreld se dinge kortgeknip.

Hoe nou gemaak? Paulus help met ’n antwoord: 13Jy onthou seker nog hoe ons oor al die dinge van die Here gepraat het. As jy oor iets wonder, dink terug daaraan en laat jou lei deur wat ek gesê het.

As jy wonder, gaan terug na die Woord van God. As twyfel aan jou deur kom klop, maak ’n afspraak met jouself om in die gewoel van die lewe ’n stil plekkie te kry en maak jou Bybel oop. Sommer net daar waar jy werk of speel, sommer op jou foon en begin lees. Lees deur die Psalms en jy sal bewus word van manne wat net so gesukkel het om deur die alledaagse gestoei kop bo water te hou. Jy sal lees hoe hulle roep na God. Ja, soms het selfs dié skrywers gewonder of God daar is.

Ons moet ons twyfel hokslaan deur terug te keer na God se Woord. Twyfel kom maak so maklik woning in ons lewe, omdat ons so min kennis van God se Woord het en die duiwel weet dit. Daarom dat hy ons kort-kort kom pla met vrae wat die twyfel laat opspring.

Ons moet konstruktief werk aan ons twyfel, want op ’n manier trek ons ’n streep deur Jesus se kruisdood. Anélia (skuilnaam) stuur vir my die volgende:

Daar is ’n interessante storie vanuit een van die Apokriewe boeke.

Na Pinkster word Jesus se volgelinge woes vervolg. Petrus smee planne om uit die stad te vlug vir sy eie veiligheid. Sluip-sluip loop hy hom onverwags teen Jesus vas wat met die kruis op Sy skouer loop.

Verdwaas vra hy: “Maar Here, wat dan nou? U het dan opgevaar?”

En Jesus sê: “Ja Petrus, maar dit lyk nie asof jy glo nie. Nou moet ek weer gekruisig word vir jou.”

Dit het my nogal laat dink – en laat dink my steeds gereeld. Elke keer as ek twyfel, is dit as’t ware asof ek vra dat Jesus oor en oor gekruisig moet word.

Anélia het vir seker ’n punt hier beet. Op ’n manier moet Jesus weer gekruisig word om ons ongeloof uit die pad te kry. Dis nie reg nie.

Kom ons maak ’n punt daarvan om elke dag ons kos uit God se Woord te kry. Dan sal ons twyfel by die deur uitvlieg.

Teks
2 Tim 1:13-18

Om oor na te dink
Twyfel jy soms?
Lees jy genoeg God se Woord?
Wat moet jy anders doen?

Gebed
Vader, jammer, dat ek soms twyfel of U werklik bestaan. U bestaan. U bestaan werklik en ek glo in U! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek