God se Woord in vandag se woorde

Tyd vir ’n brug bou


28… Ek wil hê dat elke mens die goddelike doel in sy lewe moet bereik.

Lees mooi. Paulus sê nie dat hy wens elke mens op aarde het ’n goddelike doel nie. Nee, hy sê elkeen het ’n goddelike doel en hy wens tog dat elkeen sy doel sal bereik. Die feit dat elkeen van ons met ’n doel hier op aarde geplaas is, is ’n gegewe. Met my en jou en elke liewe mens hier op aarde het God ’n doel. Die vraag is net of ons dit elkeen uitleef.

Weet jy hoekom jy op die aarde is? Is daar sin en betekenis in jou lewe? Of voel dit vir jou of jy eintlik maar net op een plek staan en niks vorentoe gaan nie? Staan jy elke oggend op, doen jou ding en as jy jou weer kom kry, gaan slaap jy weer?

Dalk is jy nie besig om by jou doel in die lewe uit te kom nie. Ek wonder maar net.

As die ouers ’n probleem het, sê die kinders mos: “Ag, Pa, hou op kla. Bou ’n brug en kom daaroor!” Ha, maar dis nie altyd so maklik nie.

Miskien is dit wat Paulus vandag vir ons kom sê – dat as ons oor hierdie doellose gerondswerwery wil kom, moet ons dalk ’n brug bou om regtig sin te kan maak. Miskien moet ek en jy net hier in ons gerondhardlopery stop en kyk na waar ons is en waarheen is ons oppad. Is God se doel met my lewe dieselfde as die doel wat ek in gedagte het vir my lewe?

Dit is dalk die rede waarom ons dikwels so sukkel om ’n betekenisvolle lewe te leef. Ware geluk lê langs die pad wat God vir ons bedoel het en ek dink ons gaan sukkel om ware geluk te ervaar as ons op ons eie paadjies rondhol.

God het in elkeen van ons ’n roeping gesit. Daarvoor is ons op die aarde geplaas. As ons die bal mis, gaan daar nie veel sukses wees nie. As daar wel sukses is, is dit plastiek en van korte duur.

Elke mens het ’n doel in die lewe. Ons is nie maar net gemaak om hier op die aarde soos aartappels op banke voor TV’s te lê nie. Die probleem is dat ons die hunkering om die doel te bereik óf baie goed wegsteek óf ignoreer óf op verkeerde plekke fokus.

Maar hoe weet ek wat my doel is? Paulus help ons hiermee ook: 28… Dit is alleen moontlik deur ’n intieme verhouding met Christus.

Jy kan hoe hard probeer om ’n brug te bou om by jou doel uit te kom, maar as daar nie ’n intieme verhouding met Jesus is nie, gaan jou brug lyk soos party brûe. Dit gaan iewers in die middel van die lug net ophou en nooit aan die anderkant uitkom nie.

Jesus sal jou help om jou goddelike doel te bereik. Sonder Hom is die kans tussen nul en minus een. Soek jy ware geluk? Soek jy ware vrede? Wil jy werklik vervul wees? Wil jy aan die anderkant arriveer? Wel, dan moet jy op jou knieë sak en begin werk aan jou verhouding met Jesus. Jesus sal jou presies wys wat God se idee was toe Hy jou gemaak het. Maar meer nog. Jesus sal jou help om jou brug te bou sodat jy aan die anderkant kan uitkom en jou doel op aarde uitleef.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:28-29

Om oor na te dink

Weet jy wat jou doel op aarde is?

Hoe leef jy dit uit?

Hoe intiem is jou verhouding met Jesus?

Gebed

Here, ek besef nou waar my onvervulde lewe vandaan kom. Ek besef dat ek nie U doel vir my lewe in die oog het nie. Ek weet ook dat my verhouding met U nie intiem genoeg is nie en dat ek baie meer tyd saam met U sal moet deurbring. Mag dit so wees! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?