Uit dankbaarheid
Ek is op reis, maar ek verplig myself om by die naaste gym in te gaan, anders land ek tuis met ’n paar ekstra kilo’s en dit raak mos al hoe moeiliker om dit af te skud. Ek stap by die gym in, blykbaar een van die top gyms in die land. Dis egter niks lekker nie, want die masjien waarop ek gewoonlik sweet, is nie daar nie. Die fietse is al deurgetrap en die TV-kanale deurmekaar. Ek stap daar uit met ’n dankbare hart vir ons dorp se gym.
Hoekom moet jy eers iets swakker of slegter ervaar voordat jy dankbaar kan wees vir wat jy het?
My dogter verstuit haar vinger in netbal. Kort-kort kom wys sy hoe die kleur verander van rooi na blou na pers. Maar meer nog, nou eers besef sy met dankbaarheid wat haar hande alles vir haar beteken.
Paulus bly maar vir ons ’n voorbeeld van hoe om reg te lewe. Hier sit hy in die tronk waar hy bitter min het en hy loop oor van dankbaarheid vir ander wat iets gering doen. Die mense van Filippi het vir hom ’n geskenkie gestuur. Hy bedank hulle uit die hart: 18And now I have it all—and keep getting more! The gifts you sent with Epaphroditus were more than enough, like a sweet-smelling sacrifice roasting on the altar, filling the air with fragrance, pleasing God no end.
Hy is met so min tevrede. Wanneer daar dan iets aankom, is hy innig dankbaar. En ons? Hoe dankbaar is ons? Dit lyk my hoe meer goeters ons het, hoe minder dankbaar is ons.
Connie vertel hoe sy uit haar swaar ander help wat nog swaarder het. Dis hier waar sy nie anders kan as om dankbaar te wees nie:
Ek en my dogter het ook al ’n groot hap van swaarkry gehad.
Maar die HERE JESUS laat ons toe om om ons te kyk en te sien dat daar ander is wat ook swaarkry, dat ons vir hulle moet bid en help waar ons kan. Dis hoekom ons hier op aarde is – om ’n verlengstuk van JESUS se hande en voete te wees.
Op ’n Donderdagaand doen ons uitreiking op die voorstrand. Dan vertel ons ander van die Weg, die Waarheid en die Lewe. Ons bid vir die mense en gee kos en klere.
Gisteraand sien ons ’n man met geen hande nie. Net twee klein duimpies. Wel, dit sit hom nie af nie. Hy teken pragtige prentjies. Ek het albei my hande en kan nie eers ’n stokmannetjie teken nie.
My dogter het vir hom gebid en ’n geskenkie vir hom gegee. Hy was so bly dat hy dadelik vir Jesus dankie gesê het.
Ek het regtig met ’n baie seer hart vir Jesus baie dankie gesê vir wat ek het.
Elkeen van ons moet oorloop van dankbaarheid, maar ongelukkig raak ons so gewoond aan wat ons het of ons begeer net meer en meer dat ons nie besef wat ons alles het nie.
Kom ons maak ’n afspraak met onsself en God waar ons stil kan raak. Gryp ’n pen en begin neerskryf wat jy alles het en dank Hom uit jou hart daarvoor.
Om oor na te dink
Is jy dankbaar genoeg?
Waarvoor kan jy alles vir God dankie sê?
Hoe kan jy jou dankbaarheid gaan uitlewe?
Gebed
Dankie Vader, dankie vir U … Amen.