God se Woord in vandag se woorde

Uithou en vasbyt


Ons het ’n bietjie stilgestaan by ’n paar kenmerke wat ons uit Paulus se lewe kan raaksien oor hoe ’n Christen se geloofshuis gebou moet word. Natuurlik is dit baie belangrik om ’n goeie fondasie te hê om die winde en storms te weerstaan. Ons huis moet op die Woord van God gebou word.

Tweedens het ons geleer dat ons lewenswandel reguit op God se pad moet geskied. Daarmee saam moet ons lewensdoel wees om wat ons ook al doen, God daarmee te verheerlik.

Verdere belangrike stene is die stene van geloof, geduld en liefde. En as ek so oor my eie lewe kyk, kom dit nie sommer vanself nie. Deesdae as jy ’n voertuig koop, kan jy hom mos bestel met tierlantyntjies waarvan jy jou. Jy kry so ’n vorm met ’n klomp ekstras op en dan merk jy net die boksies wat jy in jou voertuig soek: kleur, grootte van die enjin, elektriese vensters, getinte vensters, leersitplekke ens.

As ek egter so na my eie lewe kyk, lyk dit vir my of hierdie klomp eienskappe van ’n Christen nie eintlik natuurlik kom nie. Daar is nie ’n boksie aan die begin waar ons die … lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding … kan afmerk nie.

Dit is asof dit heeltemal ontbreek en ons dit met die jare deel moet maak van ons lewe. Ons moet werk, hard werk om dit deel te maak van ons lewe. Ons gaan leer om dit te doen. Ons gaan dit probeer. Dalk ’n keer of wat regkry, maar om ’n volgende draai waarskynlik weer vergeet om te doen.

Gelukkig kan ons ontspan oor die foute wat ons maak, want niemand is perfek nie. Ons gaan opstaan, loop en val. Maar hoe meer ons opstaan, hoe langer gaan ons bo bly. Ons moet net volhard in die probeerslae. En dit is die laaste karaktereienskap: volharding.

Loop en val en weer opstaan. Ons moenie mismoedig word nie. Ons is nie perfekte wesens nie. Dis baie keer vir mense moeilik om vir hulself ruimte te gee om ook foute te maak. Ons moet egter besef dat ons elkeen daar in die tuin van Eden ’n defek gekry het. Dit moet egter nie ’n verskoning word om te bly lê nie.

Ons moet uithou, aanhou en weer probeer. Dit is deel van ons Christene se karakter. Ons laat nie toe dat die curve balls wat die lewe na ons gooi ons onderkry nie. Ja, ons kan dalk ’n slag of wat op ons maag of rug te lande kom, maar bly lê? Nooit nie!

Om ’n kind van God te wees, beteken dat ons gedurig aan ons geloofshuise moet bou. Ons moet gedurig teruggaan na die tekenbord om te sien waar dinge werk en waar dinge nie werk nie. Ons moet nuwe dinge probeer en kyk waar ons eerder ontslae moet raak van dinge wat nie werk nie.

Die proses is nie altyd maklik nie, want die meeste van die kere neem dit baie energie. Eintlik wil ons dinge maar net so los en aankarring, maar dit sal nie werk nie. Met die volgende sterk wind kan ons huisie dalk inmekaar sak.

Ons moet bly droom om meer en meer binne God se prentjie vir ons lewens te pas. Ons moet elke dag meer energie daarin sit om ons huise so te verander om dit staande te hou teen die sterk winde. Ons moet bid dat God se Gees ons hand sal neem en ons sal help in die regte rigting.

Mag God dan ook eendag vir ons sê: Welgedaan, getroue volgeling! Mooi uitgehou en vasgebyt!

Teks
2 Tim 3:10-13

Om oor na te dink
Waar sukkel jy in jou geloofslewe?
Waar verloor jy die plot?
Vra jy die Heilige Gees om jou te help?

Gebed
Heilige Gees, help my om nie moeg te word om te probeer om my geloofshuisie op ’n sterk fondasie te bou nie. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek