God se Woord in vandag se woorde

Van gemors na geredde


Debbie vertel dat sy in ’n huis grootgeword het waar nie een van haar ouers geglo het nie. Sy was nooit in ’n kerk nie en het nie geweet van Sondagskool nie. Sy het haar lewe op haar eie terme geleef, sonder God.

Sy is in en uit verhoudings. Die een erger as die ander en soos die liedjie sê:  Looking for love at all the wrong places. Op dertig ontmoet sy iemand wat vyf jaar jonger as sy is. Toe sy uitvind dat hy op heroïen is, het sy hom nie gelos nie, maar saam met hom die middel begin gebruik. Vir 18 maande was haar lewe een groot nagmerrie!

Sy het alles probeer om uit hierdie maalkolk te kom, maar sy het net dieper en dieper daarin geval.

Eendag, toe sy vuurhoutjies soek om die heroïen warm te maak, tel sy ’n Gideonsbybeltjie op. En terwyl sy hoog is op heroïen, begin sy die Nuwe Testament lees. Sy besef toe dat daar wel ’n lewende God is en sy teenoor Hom verantwoordelik is vir haar lewe, die lewe wat sy ses nul opgemors het. Sy was baie bang.

Sy het geweet sy moet by ’n kerk uitkom en het die Paasvrydag heel agter in die kerk gaan sit. Natuurlik sodat sy gou kon uitglip as dinge te warm vir haar word. Maar toe daar uit Matteus gelees word van Jesus se kruisiging en dat Jesus vir haar gesterf het, het sy net begin huil en huil en huil.

Debbie sê toe sy by kerk uitstap, het sy geweet dat God haar Vader is, wat haar so lief het. Haar lewe het daar handomkeer verander. In die nege jaar wat sy ’n kind van God is, het Hy haar gehelp om elke liewe area in haar lewe wat sy opgemors het, te herstel en gesond te maak.

Hy het haar verbreekte verhoudings met vriende herstel en nog meer vriende gegee. Hy haar gehelp om die stukkende verhoudings met haar familie weer gesond te maak. God het haar gehelp om haar loopbaan weer op koers te kry. Hy het haar selfs gehelp om al die skuld wat sy bymekaargemaak het, af te betaal.

Waar sy eers net op haar eie terme, vir haarself geleef het, leef sy nou vir God en ander mense. Van heroïenverslaafde na verloste in Jesus.

Dis wat God doen. God draai mense om. Heeltemal om. God tel sondaars, diewe en moordenaars op en maak hulle nuut en vry. Soos vir Onesimus. Hy was ’n dief en ’n droster. Hy het weggeloop van sy werk en verantwoordelikhede af. Hy was ’n gemors en eindig op waar sulke mense hoort. In die tronk.

Gelukkig word hy, net soos Debbie, uit die vullishoop van die lewe opgetel en maak God hom splinternuut en vry. 11Vroeër kon jy nie veel met hom uitrig nie, maar nou het alles verander. Van nou af gaan hy sommer baie vir my en jou beteken.

Van gemors na geredde. Van vasgeketting in die wêreld, na vry in Jesus. Van nikswerd na iemand wat betekenis gee vir ander.

Moet nooit hoop opgee nie. God gee nooit hoop op nie.

Teks
Filemon 1:8-13

Om oor na te dink
Sit jy op moedverloor se vlakte?
Is daar nog hoop?
Waar kan jy weer hoop kry?

Gebed
Vader, soms sit ek op moedverloor se vlakte, want dit voel vir my ek kan nie terugkom op die pad na U toe nie. Soms raak die dinge eenvoudig net te veel. Help my om te bly hoop. Help my om te bly soek vir die antwoorde. Ek glo dit is net om die draai! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek