God se Woord in vandag se woorde

Van Prins tot mens verneder


Filippense 2:6-11

Probeer jouself indink in Jesus se skoene. Hier sit Hy rustig in die hemel en doen dinge wat by ’n prins pas. Gemaklike lewe van ’n adellike met genoeg mense om Hom om alles vir Hom te doen. Van tyd tot tyd het Hy en God board meetings met die res van die grootkoppe in die hemel.

Daar is weer so ’n vergadering en dieselfde bekommernis word weer op die tafel gesit. Die mens en hulle volgelinge is van die pad af. Hulle kom in opstand en kies teen God en God se Nuwe Wêreld. Eintlik ploeter hulle so rond dat hulle nie eens weet dat hulle die hemel mis nie. Hulle is so verlore en kan hulleself nie red nie. Die hel is hulle voorland.

Trane spat op die raadsaal se tafel. Met hulle hande in hulle hare weet hulle nie wat om te doen dit nie. Hulle kan die verlorenheid van die mens net nie meer aanskou nie. Almal is in rou, want die mense is so blind dat hulle nie kan sien dat die ewige hel die prys is wat hulle verdien nie.

God en Jesus verskoon hulle van die raadsaal. Na ’n lang stilte kom hulle terug: “Ons het ’n reddingsplan. Die mens se loon is die dood. Dat ons geliefdes soos vlieë die een na die ander sterf, maak ons bedroef. Ons huil ons harte uit. Daarom het ons besluit dat iemand in hulle plek moet sterf. Iemand moet in hulle plek die pak gaan vat vir die sondes.”

’n Ongemaklike stilte het in die raadsaal gehang.

God het verder gepraat: “Jesus het sy hand opgesteek en gesê Hy sal dit doen. Hy sal al sy voorregte eers hier in die hemel los en na die aarde gaan as mens. Hy sal saam met die mense deur die stofstrate stap. Hy sal saam met hulle swaarkry, maar Hy sal hulle ook leer van God. Hy sal hulle hand vat en hulle wys hoe hulle moet leef. Hy sal hulle sy hart wys en uitnooi om agter Hom aan te stap.”

Jesus het sy keel skoongemaak: “Ek sal nog meer doen, want sien, my liefde vir die mense is so groot dat Ek nie anders kan nie. Ek sal selfs elkeen se sondes van hulle wegneem. Ek sal die pak vir hulle sondes vat.”

Iemand in die raadsaal vra verbaas: “En hoe gaan U dit regkry? Hoe word die skuld van die mens net weggevat.”

Jesus het sy kop laat sak en na ’n lang stilte gesê: “Ek sal in hulle plek sterf.” Jesus gaan verder: Ja, Ek sal in hulle plek die doderyk insink, sodat die wat in My glo nie verlore sal gaan nie, maar die Ewige Lewe sal hê…”

7Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie.

8As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop.

As jy die Koning was, sou jy dieselfde gedoen het?

Om oor na te dink

Besef jy werklik wat Jesus vir jou gedoen het?

Sal jy vir ander sterf?

Sal jy werklik?

Gebed

Vader, U is so vol genade. U het ons eindbestemming onherroeplik anders gemaak. In die proses het U Seun gelyk geword aan die mens, maar meer nog, gesterf aan ’n kruis – vir ons. Dankie Here, dankie, dankie, dankie! Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?