Vasklou in die swaar
‘n Vriend van my vra my so ‘n tyd terug om saam met hom te bid vir wysheid. Werk is skaars en hulle benodig ‘n groot kontrak om te oorleef.
Hy vra vir wysheid sodat hulle die regte syfers kan inskryf in elke blokkie van die tender. Hulle werk hulle sommetjies mooi uit. Verskaffers en kontrakteurs word gebel om nóg beter pryse te kry.
Hulle was baie hoopvol om die tender te kry, maar gister kry ek ‘n e-pos van hom. Hulle het nie die tender gekry nie!
Wat sê ‘n mens nou? Wat doen ‘n mens? Wat glo ‘n mens?
Ek kry die week meer as een gebedsversoek vir ‘n dokter wat tydens haar werksure in die hospitaal verkrag is.
Ek kry ‘n gebedsversoek van ‘n vrou wat smeek dat ons moet bid dat haar man werk sal kry. Sy het die oggend haar laaste geld gebruik vir petrol om werk toe te ry.
Oral is mense wat baie swaar kry. Dalk kry jy baie swaar. Hoe maak jy dit? Bid jy ook sonder ophou vir God om tog die uitkoms te bring vir die benarde situasie waarin jy sit?
Of vra vriende dalk vir jou wat hulle moet maak in die swaar tye? Het jy ‘n antwoord?
Sonder om die swaar omstandighede mis te kyk of te maak of dit nie daar is nie, sonder om te probeer om pleisters te plak wat te klein is vir die seer, gee Paulus baie goeie raad. Hy wil voorstel dat ons met alles wat in ons is aan die enigste vaste rots vasklou: 8Moet nooit van Jesus Christus vergeet nie. Hy was dood en God het Hom weer lewendig gemaak.
Dit is al wat ‘n mens kan doen in jou swaarkry. Dit is al raad wat ek het vir die mense wat in swaarkry vasgevang sit: Glo in Jesus. Hy was dood, maar Hy het die dood oorwin, omdat Sy Abba Vader Hom bygestaan het. Dít is al wat jy nodig het om aan vas te hou. Én dit is genoeg.
Onthou dat God jou só liefhet dat Hy bereid was om Sy Seun, Jesus op te offer, te laat doodmaak, te laat afgaan in die dal van doodskaduwee … vir jou. God het dit gedoen. Hy het reeds Sy liefde vir my en jou aan ons kom wys, Sy liefde laat grondvat voor ons oë, deur die reddende daad van Jesus wat moes sterf aan ‘n houtkruis. Hoe seer, hoe stukkend, hoe vernederend, hoe alleen moes Jesus en ja, God ook nie gewees het nie. En dit alles vir my en jou!
God is aan jou kant. Weet dit en leef dit. Weet en vertrou en sê dit sommer hardop dat die almagtige God, wat Sy Seun uit die dood laat opstaan het, aan jou kant is. Hoe groot is jou probleem? Dit sal seker nie meer energie van God vra as toe Hy Jesus uit die dood gaan haal het nie? Of hoe? Hier is dus nog ‘n belofte: die Een wat jou uit die swaar gaan help, is oor en oor bevoegd om dit wel te kan doen! Hy word nie net aangevuur deur ‘n hoop liefde nie, maar Hy het ook al die krag wat nodig is om dit wel te kan doen.
Teks
2 Tim 2:8-13
Om oor na te dink
Hoe lyk jou swaar?
Glo jy God kan jou hiermee help?
Sê dit alles vir Hom en gee dit oor!
Gebed
Here, U ken my swaar. U weet dat daar dae is wat ek geen krag het om aan te gaan nie. Hou my hand vas terwyl ek aan U vasklou, sodat ek nie glip nie. Amen.