God se Woord in vandag se woorde

Vastigheid in ’n onvaste wêreld


In vandag se lewe is daar min dinge wat vas staan. So het my vriend ’n baie hoë pos in ’n groot maatskappy. Hy werk al sy jare vir die maatskappy en het gehelp dat hulle in ’n baie rowwe tydperk staande gebly het. Hy is ’n paar jaar van aftrede.

Nou moet hy hoor dat hulle oorweeg om die pensioenfonds te gebruik om die maatskappy van ondergang te red.

Dis onwettig! Hulle mag dit nie doen nie. En tog steur die mense in beheer hulle glad nie hieraan nie. ’n Vastigheid waarna my vriend gewerk het, sy hele lewe lank, is nou aan die wankel.

Die meeste van ons het darem ’n vaste salaris en dan kom daar ’n ding soos ’n virus, druk ons almal vas in ons huise en ons kry ’n brief van die baas, dat ons aan die einde van die maand net die helfte (of selfs minder of niks!) van ons salaris gaan kry. “Hoop julle verstaan” is al troosboodskappie. Self ons inkomste is nie meer noodwendig daar aan die einde van die maand nie.

’n Vriend van my kom by die huis en ruik ’n rot. Hy roep sy vrou, maar kry nie antwoord nie. Hy soek deur die hele huis. By hul slaapkamer staan al haar kasdeure oop. Daar is niks meer van haar klere nie. Net ’n briefie op die bed: “Daar is iemand anders …”

Die vastigheid onder sy voete is nou dryfsand. Sy lewe het net daar inmekaar getuimel.

Hoekom het standvastigheid ’n skaars kommoditeit in ons wêreld geword? Vandag lyk anders as gister en môre gaan presies dieselfde wees, ook anders as vandag. Daar bestaan nie meer ’n normaal nie. Ons praat deesdae mos van die nuwe normaal.

En dit maak ’n mens bang. Ons mense wil standvastigheid hê. Ons wil weet hoe môre en oormôre gaan lyk. Ons wil onsself daarop voorberei. Ons wil in beheer wees. Ons raak siek as ons buite beheer is en nie ’n bietjie standvastigheid in die lewe het om aan vas te klou nie.

Ek vermoed dit is deel van die nuwe normaal. Hierdie onstandvastigheid en onsekerheid het sy lêplek op ons horisonne kom maak, en kom ons wees eerlik daaroor, dit maak ons onrustig.

Gelukkig is God nie deel van die nuwe normaal nie. God is nog steeds deel van die ou normaal wat standvastig is en waaraan ons kan vashou. Hier is die belofte vir jou: 3Dit is net ons wat op God vertrou en sy boodskap glo wat eendag vir ewig saam met God sal rus.

Maak nie saak hoe wisselvallig die lewe hier om ons is nie. Maak nie saak of mense besluit om ons pensioen te vat nie. Maak nie saak wat aan die einde van die maand gebeur nie. Maak nie saak hoeveel virusse ons bedreig nie, ons wat in God glo, sal eendag by Hom gaan rus.

Hieraan kan ons vashou. Hierop moet ons ons voete plaas. Hierin moet ons met alles in ons glo en dit gaan uitleef in die lewe daar buite. Maak nie saak wat die wêreld doen nie, maak nie eers saak wat ons doen nie en nie doen nie, God se belofte staan vas: by Hom sal ons rus vind.

Teks
Hebreërs 4:1-6

Om oor na te dink
Noem ’n paar onvaste dinge in jou lewe?
Noem ’n paar onvaste dinge in die mense om jou se lewe?
Watter vastigheid gee God jou?

Gebed
Ons Vader in die hemel, dankie dat U ons vastigheid is waaraan ons kan vasklou. Ek moet bieg dat die wêreld my soms bangmaak en dat ek ronddobber, maar ek weet U is daar. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek