God se Woord in vandag se woorde

Vergewe om te vergewe


13… Julle was mos eers geestelik dood. Almal kon dit sien uit alles wat julle verkeerd gedoen het. In daardie stadium het Christus nog nie van julle sondige natuur ontslae geraak nie. Julle was geestelik nog nie besny nie. Toe verander dinge! Soos God Jesus lewendig gemaak het, het Hy julle saam met Hom lewe gegee. “Maar wat van alles wat ons verkeerd gedoen het?” kan julle vra. Wel, genadiglik hou God niks meer teen ons nie.

Hierdie vers lees ek oor en oor, want dit is sulke goeie nuus vir my. Die foute wat ek gemaak het, word van die tafel afgevee asof dit nooit gebeur het nie. Die straf vir my sonde verdwyn in die niet. Die dooie ekke word wakker geskud, lewendig gemaak en ’n nuwe lewe vul my binneste. Nou kan ek weer volspoed lewe. Nou kan ek die lewe in die oë kyk en volspoed met ’n lag in my stap voortbeur, want genadiglik hou God niks meer teen ons nie.

Maar so in die weer-en-weer lees van die lewegewende teks besef ek dat ’n lewe van vergifnis veronderstel dat ek en jy eers werklik vry is wanneer ons ook die vergifnis uitdeel na die mense om ons. Dis so maklik om vergifnis te ontvang, maar tog so moeilik om dit uit te deel, veral aan die wat dit glad nie verdien nie. Daardie mense wat ons so seermaak sonder om ’n stukkie om te gee. Dis juis hulle wat ons vergifnis nodig het, want sien, hulle verdien dit net so min soos wat ons Christus se vergifnis verdien.

Tog is dit nie so maklik nie.

Ook nie vir Marthie nie:

’n Paar jaar gelede het mense my pad gekruis. Met genade van Bo was dit my voorreg om hulle na Jesus te lei. ’n Noue liefdesband het tussen ons ontwikkel. Hulle het soos my eie kinders geraak.

Op onverklaarbare wyse het die vrou later teen my gedraai. Ek het die lelikste SMS’e van haar gekry. Toe laat weet sy my boonop van al die leuens wat sy en ’n ander vrou oor my by my leraar kwytgeraak het. Hulle wou my bediening vernietig.

Ek het lank daarmee geworstel.

Die verraad het diepe letsels gelaat, maar met krag van Bo kon ek hulle uiteindelik vryspreek en vergewe. Ek het net vir hulle gebid.

Verlede jaar het albei die vrouens afsonderlik vergifnis kom vra.

Toe raak die een vrou se man baie ernstig siek. Sy lewe het aan ’n draadjie gehang. Dokters het haar op die ergste voorberei.

Een aand klop iemand aan my deur. Dis toe die man se vrou. Sy val in my arms en huil haar angs en nood op my skouers uit. Dit was my voorreg om hulle in die daaropvolgende maande geestelik te kon ondersteun en met gebede te dra.

Toe sy destyds met my kom versoen het, is ek gevra hoekom ek haar vergewe na alles wat sy aan my gedoen het. Maar die Heilige Gees het my gelei om die regte ding te doen.

Vandag sien ek God se hand daarin.

’n Eenvoudige verhaal wat baie seer veroorsaak het en ook baie moed gekos het, maar wat ’n groot impak in God se Koninkryk gehad het. God het ons vergewe. Nou moet ons die sirkel voltooi en die vergifnis aangee. Dit is nie maklik nie, maar wel moontlik met die hulp van die Heilige Gees.

Teks

Kolossense 2:13

Om oor na te dink

Wat maak jy met God se vergifnis?

Na wie moet jy dit aangee?

Hoe nou gemaak?

Gebed

Vader, dankie vir U vergifnis en dat U niks meer teen my hou nie. Help my om U voorbeeld te volg sodat ek ook ander kan vergewe wat my seergemaak het. Ek weet dit is moontlik as U my daarmee help. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek