Verhouding herstel
Twee boeties baklei dat die spoeg spat. Die pa van die twee seuns se hart is gebreek en dit maak hom seer dat sy twee seuns teen sy wil ingaan. Eintlik is al die verhoudings in die gesin aan skerwe.
Die derde boetie, wat niks met die bakleiery te doen het nie, tree na vore en bied aan om namens die twee bakleierige boeties die straf te dra en hy gee sy lewe. Deur dié selfsugtige daad van die derde broer word al die verhoudings herstel en is daar weer vrede.
Die verhaaltjie klink eintlik absurd. Wie sal dan nou so iets doen? Maar dit is presies wat Jesus kom doen het. Deur Jesus se dood aan die kruis het Hy weer die verhoudings kom regmaak: 20Hy het daarvoor gesorg dat alles in die skepping weer in die regte verhouding met Hom gestel word. Dit het Hy gedoen deur die onderlinge verhoudings in die skepping weer reg te stel.
Ek dink nie ons verstaan heeltemal die impak van Adam en Eva se keuse om nie binne die wil van God te lewe nie. Dis nie maar net ’n kinderstorie van ’n foutjie wat die mens gemaak het nie. Nee, die enkele verkeerde keuse het die harmonie in so ’n mate versteur dat daar vyandskap tussen God en die mens was.
Eintlik was dit oorlog en omdat God God is, was die mens die heeltyd aan die verloorkant. Dit was vir God so ontstellend dat Hy en Jesus moes ingryp. Maar daar was geen ligte oplossing moontlik nie: 20… Dit het nie sommerso gebeur nie. Dit was duur. Dit het Hom sy bloed gekos wat aan die kruis geloop het.
Ek weet jy het dit al soveel keer gehoor. Tog moet ons weer en weer hierby stilstaan. Waar sou ons vandag gewees het as Jesus se bloed nie geloop het nie? Ons aanvaar die dinge so vanselfsprekend. So asof dit so moet wees. Teken egter ’n ander prentjie van Jesus wat nie daarvan deel is nie en jy sien die verwoestende prentjie. Mense wat mekaar doodmaak vir niks.
Ja, daar is nog steeds hier en daar uitbarstings hiervan in ons wêreld. My Tannie is vermoor deur haar tuinman vir wie sy staan en broodjies maak het. My niggie is in haar kombuis in Wellington gevind: hande en voete vasgemaak en verwurg. Haar beursie en selfoon is gesteel.
Ai! Dan sukkel ’n mens om kop op te lig. Die vrae druk té swaar en die antwoorde is net té lig in die broek om rêrig die druk te verlig.
Orals dop skewe verhoudings nog uit. Mense maak bewustelik die keuse om ’n streep deur verhoudings tussen mens en God te trek met die netto effek dat moord en doodslag en seer en pyn hulle woonplek tussen ons kom maak.
Daar is geen maklike antwoorde nie. Alles maak ook nie altyd sin nie.
Wat ek wel weet en met my hele wese aan vashou, is dat Jesus die verhouding tussen my en God weer ’n kans kom gee het. God kyk na my deur die bril van Jesus se kruisdood. Dié bril keer dat die strale van my sonde deurkom. Nou is my verhouding met God weer herstel en ek staan ’n kans om by God uit te kom.
Tussen die seer van die dood en moord rondom my hou ek hieraan vas: My verhouding met God is weer herstel, omdat Jesus se bloed ook vir my misdade gevloei het. Prys sy Naam.
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Wat beteken Jesus se dood aan die kruis?
Hoe ervaar mense rondom jou jou geloof?
Wat maak jy met die swaar in die lewe?
Gebed
Here, ek ken U storie. Watter wonderlike storie is dit nie. Ek glo daarin. Ek glo dat U die verhouding tussen ons en God herstel het. Tog sukkel ek as ek rondom my kyk en sien hoe ons met hierdie versoening tussen ons en God mors. Wees ons genadig en lei ons op die regte pad. Amen.