God se Woord in vandag se woorde

Verregaande om mure te verkrummel


Sê nou maar jou geldsake is ’n bedreiging vir jou en jy neem die uitdaging na God toe. God se oplossing aan jou, is dat jy vir ses dae een keer om die bank in die dorp moet gaan stap. Die sewende dag moet jy sewe keer om die gebou gaan stap. Dan moet jy ingaan en ’n staat gaan trek. Jou geldgemors sal uitgesorteer wees, met ’n groen balans. Sal jy dit doen?

Klink so ‘n bietjie verregaande, nè?

Dis egter wat die Josua en die Israeliete gemaak het met ’n groot uitdaging vir hulle. Die stad van Jerigo was erg beleër. Dit was ’n uitdaging wat te groot was en die leër van Jerigo was te sterk vir die Israelitiese leër. Hulle het in die pad gestaan van die Israeliete om die beloofde land van melk en heuning binne te gaan.

Toe kom die snaakse opdrag van God. Stap vir ses dae om die stad en as die ramshorings blaas, skree uit jou maag uit en op die sewende dag moet julle sewe keer om stap. Met die laaste geskree, sal die mure omval. Dan kan julle eenvoudig net oorklim en die stad verower.

Klink so bietjie verregaande, nè?

Josua en die volk het egter vir God geken. Hulle het Hom geken as ’n God wat nie altyd konvensioneel is nie. Hy doen baie keer dinge op Sy manier, wat nie altyd binne ’n mens se kop inpas nie.

Hulle gaan staan egter nie met handjies in die sye en begin God se strategie of manier van doen, bevraagteken nie. Hulle sweep mekaar nie op en bevraagteken God se plan nie, al klink die opdrag en oplossing vir die probleem so ‘n bietjie vreemd.

Hulle gaan doen dit. Hulle gaan stap vir ses dae om die dorp en die sewende dag doen hulle dit sewe keer. Hulle blaas op die horings en skree met alles in hulle en doef!, daar verkrummel die mure. 30Op dieselfde manier het die mure van Jerigo inmekaargesak nadat God se mense sewe dae lank elke dag om die stad getrek het.

En nee, dit was nie een of ander natuurverskynsel met ’n aardbewing wat alles omgeskud het of die mure wat in die grond in gesak het nie. God het self tot die redding gekom en die mure laat verkrummel.

Ten einde hierdie verregaande daad te gaan doen, het Josua en die volk egter een groot bestanddeel benodig: geloof in God. Geloof in God wat die verregaande sal laat gebeur om die krisis in hulle pad van die tafel af te vee.

Moet ons nou om die bank gaan stap, of om die kantoorgebou of ons huis? Ek vermoed nie so nie, maar as God dit van ons verwag, moet ons dit gaan doen. Wat ook al God van ons vra om die uitdaging in ons pad uit die weg te kry, moet ons doen, al is dit verregaande.

Sal jy dit doen? Sal jy iets doen wat jou dalk die bespotting van dorp op die skouers kan haal?

Ek moet bieg, dis nie so maklik nie, maar met ’n sak vol geloof kan ’n mens dit dalk net waag. En met geloof in ’n magtige God wat soms die verregaande gebruik, sal die uitdaging se mure voor ons oë verkrummel.

Teks
Hebreërs 11:20-31

Om oor na te dink
Glo jy dat God ons nog vandag hoor?
Glo jy dat God ons nog vandag help?
Sal jy die verregaande doen?

Gebed
Vader, dis vir my moeilik om te glo dat U vandag nog hier in ons wêreld woel, maar ek het U nou so nodig. Ek is bang om snaakse goeters te doen, maar ek sal enige iets doen wat U van my vra. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek