Versoekings onder alle bome
Ek kry ’n prentjie van Jan (skuilnaam) se lewe deur die oë van ’n vriend.
Dit gaan nie goed met Jan nie, want sy vrou het hom verneuk met ’n groot boom in die woonbuurt langsaan. Sy vrou is, of was dit nou, ’n groot boom. Hulle begeertes het die oorhand gekry.
Sy het totaal en al ’n ander vrou geraak en om elke hoek en draai ’n rede gesoek om te skei. Menslik seker te verstane.
Terwyl die twee hoë bome besig is met hul kaperjolle, staan daar aan die agterkant ’n klomp mense verward, alleen en seer. Die kinders is verward en seer. Jan staan alleen en seer. Vriende en ’n gedeelte van die gemeenskap staan met sakke vol vraagtekens. Die skade onherroeplik.
My vriend sê dat hulle almal met ope arms staan om hulle te vergewe as hulle bereid is om skuld te erken en terug te keer. Maar hulle kan nie.
Begeertes laat dit seker nie toe nie.
Dis jammer, nè. Dis jammer dat hoë bome toelaat dat begeertes hulle oorrompel. Dis jammer dat begeertes ’n mens so verblind dat jy nie die impak daarvan op die mense rondom jou kan raaksien nie. Dis jammer dat begeertes so met ’n mens se kop mors dat jy nie eens kan besef dis juis jy wat aan die verkeerde kant speel nie.
Begeertes is ’n sluimerende donkerte in alle mense, ook in Christene, se lewe. Ons dink ons is die heeltyd in beheer. Ons dink ons kan enige aanval vanuit die donkerte teenstaan, want ons is mos in beheer. Die hoë bome het seker ook so gedink.
Net om by ’n volgende afdraai die verkeerde een te vat en op ’n pad te lande te kom wat gesaai is met begeertes. En voor ons ons kom kry, het ons ’n deur oopgemaak en druk ons die begeerte styf vas.
Dit kan met enige iemand gebeur. Met hoë bome en met klein boompies. Met jong bome en selfs met ou bome. Met jong kinders van God en met die wat al ’n lang pad saam met die Heilige Gees stap.
Daarom die waarskuwing en opdrag: 13As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. (1983-vertaling)
Kyk mooi wat sê die vers. Gehoorsame kinders is nie bestand teen begeertes nie. Die dag toe ons kinders van God geword het, het ons begeertes nie gesterf om ons nooit weer te pla nie. Nee, ongelukkig is verkeerde begeertes nog net so op en wakker na ons bekering as voor ons bekering.
Besef dit. Waak daarteen. Staan op daarteen. Berei jou voor. Ek vermoed dis wat die hoë bome nie gedoen en ook nie voorsien het nie.
Laat ons nie in dieselfde strik trap nie.
Teks
1 Petrus 1:13-16
Om oor na te dink
Watter begeertes steek nog by jou kop uit?
Waar moet jy wagstaan?
Hoe moet jy keer dat dit nie ’n werklikheid word nie?
Gebed
Vader, ek besef dat my begeertes nie dood is nie. Ek besef ek moet elke oomblik van die dag en nag wagstaan om seker te maak dat ek nie die deur vir hulle oopmaak nie. Ek sukkel soms erg. Heilige Gees, help my om sensitief en gehoorsaam te wees aan U stem. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.